David Wagenaar (binnesenter) van Ashton United duik oor die doellyn vir die eerste van sy twee drieë. Wagenaar het uitstaande spel gelewer. Ashton het die grootuitdaagbekerkragmeting teen Swellendam, wat op die Cogmanskloof-sportveld gespeel is, 41-11 gewen. Foto: Norman Evertson


Die Swellendam-rugbyspan het verlede Saterdag, 29 Julie, waarskynlik met groot verwagting na Ashton gereis – om die Ashton United-span in ’n grootuitdaagbekerligawedstryd op sy tuisveld te pak en hopelik met `n sege huiswaarts te keer.

Maar dié hoop het hom ongelukkig beskaam en die Swellendammers is wreed ontnugter.

Die besoekers het ’n baie moeilike agtermiddag op die rugbyveld beleef. Swellendam het geen teenvoeter vir sy gasheer se begeesterde spel in die eendeweer – ligte reënbuitjies het af en toe tydens die kragmeting uitgesak – gehad nie.

Die skrif was reeds teen rustyd vir die sukkelende Swellendam-span aan die muur toe hy reeds 6-17 agter was.

Ashton was eenvoudig te sterk vir die besoekers. Dit het in geen stadium van die wedstryd gelyk of Swellendam die wa deur die drif gaan trek nie.

In die eerste helfte het die ervare David Wagenaar (binnesenter), wat ’n puik wedstryd gehad het, Ashton se eerste drie gedruk. Anrich Nelson (heelagter), wat vroeg in die kragmeting met ’n strafdoel geslaag het, het Wagenaar se drie verdoel.

In dieselfde tyd kon Swellendam slegs twee suksesvolle strafdoele behaal.

Ashton het in die skrums die botoon gevoer – só goed dat die skeidsregter ’n strafdrie aan die tuisspan toegeken het nadat Swellendam in sy eie kwartgebied twee keer na mekaar die tuisspan se skrum op ’n onwettige manier gestuit het.

Die besoekers se opdraandestryd is verder bemoeilik toe sy vaskopstut, wat deur die skeidsregter as die skuldige geïdentifiseer is, met `n geelkaart van die veld gestuur is.

Genadiglik vir Swellendam het rustyd kort hierna aangebreek, maar toe was Ashton reeds gemaklik met 17-6 voor.

In die tweede helfte van die kragmeting het die damwal gebreek. Afgesien van nog twee geelkaarte – een aan elke span – was dit vir die tuisspan ná die omdraaityd basies net eenrigtingverkeer.

Ashton het nog vier drieë ingeryg en met die wedstryd weggehardloop. Die manne wat in die laaste 40 minute met reël maat agter Swellendam se doellyn gaan kuier het, was Nelson, Wagenaar (sy tweede drie) en die agsteman, Shandré Rank, wat ook twee drieë gedruk het. Nelson en Wagenaar het elk met ’n doelskop geslaag.

Swellendam, wat tot die einde moedig aanhou probeer het, is met ’n onverdoelde drie beloon, maar die koeël was toe al by die preekstoel verby.

Die tuisspan het uiteindelik ’n wegholoorwinning van 41-11 oor die vuisvoos besoekers, wat tans tweede laaste op die Breë-Langebergpunteleer lê, behaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article