Granville Louw van Bonnievale is sedert 12 Julie vermis.

Credit: SYSTEM

’n 25-jarige man van Bonnievale is nou al vir meer as twee weke vermis.

Granville Louw se ma, Getruida Louw het hom op die aand van 12 Julie laas gesien.

“Hier waar ons woon, word die deure 22:00 gesluit en omtrent daai tyd het hy gesê hy gaan gou winkel toe daai aand,” verduidelik Getruida.

Granville is tien jaar gelede met ’n bipolêre siekte gediagnoseer.

“Daai tyd toe hy vermis geraak het, was in die middel van ’n maniese episode waartydens hy soms deurmekaar is, hy is ook nie heeltemal homself nie. Hy is ook baie praterig wanneer hy so is en sal sommer met enige een gesels. Ek weet ook nie of hy dalk met mense in ’n voertuig geklim het en saam met hulle hier weg is.”

Sy vertel dat hy twee jaar gelede ook weggeloop het van die huis af.

“Hy het toe geryloop na sy pa toe wat in Philippi in die Kaap woon. Dus was ek onder die indruk dat hy hierdie keer dieselfde gedoen het. Maar toe hy ná twee dae nie by sy pa se woning opgedaag het nie, het ek nog meer bekommerd geraak, het sy gesê.”

Sy het toe vir hom as vermis by die Bonnievale-polisiekantoor gaan aanmeld en ook self na hom begin soek.

“Niemand het hom daai aand gesien of gesien in watteer rigting hy kon geloop het nie. Hy is tog gewoonlik so stil van aard en het ’n goeie hart, maar wanneer hy so is soos hy daai aand was, doen hy soms dinge buite sy karakter.

“Hy het ’n baie goeie hart maar mense verstoot hom steeds en hy is baie alleen. Ek vrees net dat hy dalk die verkeerde mense teëkom, of onbeskofte mense wat nie sal weet hoe om hom te hanteer nie. Hy is sonder sy medikasie hier weg.”

Sy wil ook graag hê, as haar seun hierdie raaklees, dat hy moet weet sy is baie lief vir hom.

“Mammie is baie lief vir jou. Kom asseblief terug huis toe. Jy het so ’n mooi hart en ek vrees dat mense dit kan misbruik.”

Gertruida is ook dankbaar aan die gemeenskap van Bonnievale wat haar gedurende hierdie tyd bystaan.

“Die mense van Bonnievale lig my op, dit is die gemeenskap wat my regop hou,” voeg sy by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article