Lede van Old St. Blues is eersdaags in ’n fliek te sien.

Die fliek, Old Righteous Blues, is eksklusief in Robertson geskiet en word Saterdag 26 Augustus by die Silwerskermfees vrygestel

Adrian Cooksen, die Kersfeeskoor se voorsitter, meen hulle sien verskriklik uit na die fliek.

“Ons is baie excited. Hoewel dit soms stresvol was om die fliek te skiet, met al die kere wat ‘Cut!’ geskree is en hoe dit ons uitgeput het. Maar terselfdertyd was dit ’n groot ervaring vir ons as die Old St. Blues-band.”

Die fliek is verlede jaar op verskillende plekke in Robertson geskiet en selfs mense uit die gemeenskap kon deel van onderskeie tonele van die fliek wees.

Die fliek handel hoofsaaklik oor ’n gemeenskap se lojaliteit vir twee afsonderlike Kerfeeskore in die dorp.

“Dis ’n Romeo en Juliet-storie in die Boland; ’n aangrypende drama oor ’n gemeenskap wat in twee geskeur is oor ’n ou vete, en ’n eg Suid-Afrikaanse rolprent wat die kollig laat val op ’n nasionale kultuurskat: die Wes-Kaapse Kerskore. Dís Old Righteous Blues, ’n móétsien-speelfilm, met ’n indrukwekkende en groot rolverdeling wat nog gehore wêreldwyd aan hul voete gaan hê,” beskryf Silwerskermfees.co.za dit op sy webtuiste.

Die webtuiste verduidelik verder: “Old Righteous Blues is in die pragtige Robertson verfilm en vertel die verhaal van Hantjie, ’n ambisieuse jong man met ’n brandende begeerte om die trommelmajoor van sy Kerskoor te word. Ongelukkig is die koor se stoere leiers, wat vasklou aan die verlede, nie daarvoor te vinde nie. Om sake verder te bemoeilik, is die liefde van Hantjie se lewe, Risi, die dogter van die gehate opposisie-koor se leier.”

Hoewel die hoofrolle in die fliek nie deur enige van Old St Blues se lede vertolk word nie, word hulle baie prominent in die film vertoon wanneer hulle doen waarvoor hulle bekend is – om Kerfeeskoormusiek te speel.

Cooksen meen ook hierdie is iets goed vir die Robertson gemeenskap.

“Dit skep ’n geleentheid vir Robertson om raakgesien te word. Dis groot – nie net vir die koor nie, maar vir die hele gemeenskap. Dit is ook iets groot vir die blootstelling van die mense in die film.”

Old st Blues is in 1940 gestig. Die fliek speel egter in 1997 af. “Dis wanneer die draaiboek geskryf is.”

Robertson-inwoners kry Sondag 27 Augustus die geleentheid om die fliek gratis in die stadsaal te sien.

Kaartjies kan by die Robertson-toerismekantoor afgehaal word, en elke fliekganger is geregtig op een kaartjie. Hierdie historiese geleentheid begin om 14:00 vir 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article