Ná sy oorwinning van 21-17 oor Westville Old Boys verlede Saterdag (9 September) in die Rainbow Gold Cup op die Wesbank-sportterrein het Wesbank Saterdag Valsbaai (WP-rugbyunie) in laasgenoemde se agterplaas in die laaste 16 aangedurf.
Valsbaai moes egter in die laaste 10 minute hard werk om Wesbank in Constantia met 41-31 te klop nadat die tuisspan rustyd gerieflik 36-7 voor was.
Valsbaai het van die afskop af gebiedsvoordeel met sy groot pak voorspelers geniet en Wesbank op die agtervoet gehou. Wesbank was ook verantwoordelik vir die swak begin in die eerste helfte omdat hy nie volgens plan gespeel het nie. Valsbaai het balbesit weggehou van Wesbank se voorspelers en sodoende sy gevaarlike agterlyn geneutraliseer.
Valsbaai het met sy swaar pak spel aan die voorkant oorheers en munt geslaan uit Wesbank se foute.
Die spanne het gaan water drink met Valsbaai met 36-7 gerieflik voor.
Harde woorde is tydens die waterbreuk gespreek en nadat die tweede helfte hervat is, het Wesbank sy reserwekrag ingespan.
Ná die ontplooiing van Dashton Wellman, Nicholas Dueha, Braison Albertus, Nathan Solomons, Denzil Adams en Bevan Abrahams het hulle ’n groot verskil op aanval en verdediging gemaak.
Valsbaai moes wal gooi in die tweede helfte, want Wesbank het laas tot sy reg gekom en die veld aan die brand gespeel, wat Valsbaai ontsenu het. In dié tydperk kon Valsbaai slegs vyf punte aanteken, terwyl Wesbank 24 punte behaal het. Swak skopwerk het Wesbank se kanse benadeel om ’n moontlike kans te kry in die kwarteindstryd deur omtrent 14 punte verlore te laat gaan.
Voorlangs het Sebelo Dlamini goeie balle vir Wesbank by die afbreekpunte gesteel, terwyl Charles Gerber en Faeess Moosa uitstekende spel en ondersteuning gegee het.
Agterlangs het Dillon Strydom en Devan Van Niekerk goed saamgewerk.
Wesbank se vyf drieë is deur Brandon Appollis, Faeess Moosa, Dillon Strydom en Ralton Du Toit (2) gedruk. Strydom het ook met ’n doelskop geslaag terwyl Gavern Skippers twee oorgeklits het.





