Jason Jacobs tydens die teaterproduksie Kraal. Foto: Verskaf


Cleveland Hopp (22), ’n aspirante teater -en filmmaker van Malmesbury, reik na die sterre.

Hopp, wat in 2018 aan die Hoërskool Swartland matrikuleer het, was nie net onlangs betrokke by ’n fliek wat aan die internasionale front aandag geniet het nie, maar sien ook uit na ’n produksie wat binnekort by die 2023- US Woordfees op die planke verskyn.

Hopp se passie vir dié produksie, Kraal, spreek boekdele oor sy liefde vir die bedryf, sy taal en Suid-Afrikaners se stories.

Hy het op hoërskool die vak drama onder leiding van die onderwyseres Marzane Hattingh geneem, en wou aanvanklik sy studies aan die Universiteit Stellenbosch voortsit. Ná deeglike huiswerk het hy eerder besluit om ’n graad in rolprent- en televisiewerk aan die Universiteit van Kaapstad te studeer. Hoewel hy lief bly vir die teater, het sy studies vir hom baie deure in die bedryf geopen.

Studente is in sy finale jaar ’n geleentheid gebied om sonder betaling aan die produksie van ’n kortfliek te gaan help werk. Dit is die tydperk waartydens die skrywer en regisseur Jason Jacobs Hopp se talente raakgesien en hom gevra het om as hulpregisseur by die fliek Clarissa betrokke te raak. Dié rolprent, wat maar nog in sy babaskoene is, het reeds vroeër vandeesmaand tydens Venisië se Internasionale Filmfees groot gewen.

“Jacobs het gedurende die produksie van Clarissa gevra of ek as kreatiewe vervaardiger by Kraal betrokke wil raak,” vertel Hopp. Hy beskou Jacobs as ’n mentor by wie hy daagliks steeds leer. “Hy daag my uit en motiveer my, en ons het ’n goeie samewerkende verhouding wat werk,” sê Hopp trots.

Hopp brei meer uit oor Kraal en vertel dat Jacobs verskillende karakters speel.

“Hy nooi die gehoor uit om deel te vorm van ’n seremonie binne ’n figuurlike skaapkraal, wat ’n veilige omgewing weg van die “vloek van alkohol” bied, verduidelik hy. Die produksie beeld verder die verwoesting van die dopstelsel en die siklusse van alkohol oor geslagte heen in veral die Noord-Kaap uit, hoewel die boodskap op ’n wye gehoor van toepassing is.

“Die hele teks bestaan uit poësie en baie karakters met die hooftema van alkoholmisbruik en die siklus van alkohol in die lewe van elkeen van daardie karakters,” verduidelik Hopp. “Jacobs probeer met die intrapslag ’n verhouding met die gehoor te vorm en hulle terselfdertyd in ongemak te plaas deur die probleem te konfronteer. Dit is veral suksesvol danksy die gebruik van tegnologie vir klank en woorde.” Kraal was ook by vanjaar se Suidoosterfees te sien en het boonop die prys vir die beste debuut-teks by verlede jaar se US Woordfees gewen.

Kraal sal vanaf 7 tot 10 Oktober in die Adam Small Lab-teater op Stellenbosch te sien wees, gevolg deur ’n landswye toer om die gesprek oor die siklus van alkohol en die misbruik daarvan lewendig te hou. “Ons gaan nie die probleem met die produksie oplos nie, maar die seremonie wat uitgebeeld word, kan lei tot genesing,” vertel hy verder. “Dit is ’n proses van en ’n reis tot genesing,” sluit hy af.

Dit is maar nog net die begin van Hopp se loopbaan. Hy het sowat twee weke gelede amptelik sy vlerke gesprei, Kaapstad toe verhuis en tussen die voorbereiding van Kraal by ’n nuwe werk aangeklop, waar hy sy rol agter televisieskerms voortsit en dit tot nuwe hoogtes sal neem.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article