“Leerders wat laat kom, ontwrig die skoolprogram, die onderwysers en die leertyd. Dit is disrespekvol teenoor onderwysers en ander leerders.”

Só meen die Wes-Kaapse departement van onderwys, wat Wesbank Sekondêr steun in die skool se pogings om ’n voortslepende probleem van laatkommers op te los.

’n Betoging het Woensdagoggend buite Wesbank Sekondêr plaasgevind nadat sommige leerders nie die skool kon binnegaan nie omdat hulle laat was.

Traagheid van leerders

Volgens die WKOD kom die probleem van leerders wat laat opdaag, al vir ’n geruime tyd by die betrokke skool aan. “Hoewel daar somtyds ’n geldige rede is, is dit in die meeste gevalle eenvoudig ’n gebrek aan stiptelikheid en traagheid van die leerders se kant af,” voeg die WKOD by.

Die departement het beklemtoon dat skooltye gerespekteer moet te word en dat ouers ook verantwoordelikheid behoort te neem deur seker te maak hul kinders daag betyds by die skool op.

Die kwessie rakende leerders wat laat kom vir skool, is reeds al verskeie kere in die verlede deur onderwysers van Wesbank Sekondêr getakel.

Talle probeerslae om die probleem die hoof te bied, het volgens die departement misluk.

“Die skool het verskeie stappe geneem, insluitend detensie en briewe aan ouers, maar die probleem duur voort,” voeg Bronagh Hammond, woordvoerder van die departement by.

In ’n brief wat aan die einde van die derde kwartaal deur die skoolhoof aan ouers uitgestuur is en waarin gepleit word dat die probleem met kinders bespreek moet word, is ’n waarskuwing uitgereik dat die skoolhekke gesluit sal word sodra die klok lui.

Die skool het aangevoer dat leerders nie summier toegang tot onderrig geweier word nie, maar dat ouers van daardie leerders gekontak sal word vir ’n verduideliking oor hoekom hul kinders laat is.

Ouers is ook gevra om ’n brief te stuur indien hulle verwag dat hul kind laat gaan wees.

Hulp dringend nodig

Volgens die skool se leerkragte is alle pogings om die voortslepende probleem op te los, uitgeput en hulle vra nou vir samewerking.

“Hoewel geen kind toegang tot ’n skool geweier mag word nie, simpatiseer ons met die skool deur doeltreffende stappe te doen om dissipline, stiptelikheid en samewerking van die leerders te kry.

“Ons hoop die skoolgemeenskap stem saam dat die skool ’n poging aanwend om die gehalte van onderrig te verbeter en dat ouers hul rol sal vervul deur stiptelikheid en dissipline by hul kinders tuis te bring. Ons almal het ’n rol om te vervul.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article