Een van Fernando Arendse se blitsige aflewerings na ’n Ceres-kolwer.

Credit: SYSTEM

Die Malmesbury-krieketklub het die Ceres-krieketklub Saterdag (14 Oktober) in sy tweede krieketwedstryd op die Dieprivier-sportterrein in ’n Promosieliga-krieketwedstryd van die Boland-krieketunie gepak.

Die koringboere, wat hul openingswedstryd van die krieketseisoen op 7 Oktober in die Paarl teen Young Peoples met ’n nederlaag ingelui het, het teruggekom en die wilgerlat Saterdag (14 Oktober) voor sy tuisskare behoorlik ingelê en Ceres se appelboere gelooi om met 275 lopies te wen.

Die kaptein, Sergio Rooms, het die loot gewen en besluit om eerste te kolf. Volgens Rooms was die toestande ideaal vir kolf en hy het toe hy die loot wen, nie gehuiwer om eerste te kolf nie.

Die openingskolwers Keanu Goliath en L. Koopman het uit die staanspoor onder Ceres se boulers ingeklim en vinnig 37 lopies in 7.2 boulbeurte op die telbord geplaas voordat Koopman met sy telling op 17 deur E. van der Merwe van J.P. Africa se boulwerk uitgevang is.

T. Timotheus het hom by Goliath aangesluit en die telling tot 83 geneem voordat hy deur R. Maggot vir 29 vir die verlies van twee paaltjies uitgeboul is.

Met Rooms se verskyning het hy en Goliath vinnig ’n vennootskap van 52 lopies om die derde paaltjie gemoker terwyl Goliath ook sy 50-tal aangeteken het. Hy is egter in 32ste boulbeurt deur C. van Wyk vir 64 lopies van 87 balle uitgehardloop toe hy ’n lopie wou steel.

Rooms en Goliath se vennootskap van 52 lopies om die derde paaltjie het egter die grondslag vir die middelkolwers gelê. A. Henkelman het hom by Rooms gevoeg en die telling laat aanskuif na 220 lopies voordat hy vir 27 lopies deur R. Maggot van C. van Wyk se boulwerk uitgevang is.

Rooms het voortgegaan en sy 50-tal ná 108 balle aangeteken. Hy is egter in die 43ste boulbeurt (42.4) op 78 deur P. Sauls van Africa se boulwerk uitgevang.

Met die perfekte platform wat deur die openingskolwers geskep is, kon Rooms en die ander middelordekolwers hul natuurlike spel speel.

Edwin Amerika en die veteraan Donovan Dudley het behoorlik onder die appelboere ingeklim en die wilgerlat lustig rondgeswaai. Amerika het 39 lopies van net 26 balle gemoker en Malmesbury gehelp om altesaam 320 op die telbord te plaas en die appelboere die teiken gestel om 321 lopies vir ’n oorwinning aan te teken.

Die vuurwarm Swartland-son het die Appelboere se energie behoorlik getap. Fernando Arendse het onder die kolwers gemaai en sewe paaltjies in 9.4 boulbeurte vir net 16 lopies laat kantel, waarvan drie leeg was. Hy het goeie ondersteuning van M. van Wyk en E. Amerika ontvang.

Die appelboere is ná 73 minute vir ’n skamele 46 lopies uitgeboender.

Malmesbury het die wedstryd met 275 lopies gewen en volpunte verdien.

Die span reis eerskomende Saterdag (21 Oktober) na Pniël waar hulle teen Coronations sal kragte meet.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article