’nBrand het gedurende Sondag 22 Oktober in die vroeë oggendure die Koranrug Primêre Skool, ’n landelike skool op die plaas Korhaansrug buite Darling, verwoes.
Die skool lê volgens bekommerde inwoners na aan die hart van lede vanuit die plaaslike gemeenskap, wat gehelp het om die skool onder meer te verfraai, van voorraad en produkte te voorsien, tekorte op te los en ’n voorkoms te skep waarop hulle trots was.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder sers. Johnatan Filander het vyf verdagtes by die skool ingebreek. Een van die oortreders het ’n vuur binne een van die klaskamers gemaak om weens ’n gebrek aan elektrisiteit beter te kan sien. Dit was nadat die skool reeds die afgelope twee maande deur misdadigers geteister is. Kragkabels is onder meer op 4 en 11 September gesteel, wat die skool sedertdien sonder elektrisiteit gelaat het, voeg Filander by.
Die vlamme van die vuur wat binne die klaskamers van die grondslagfase gemaak was, het glo ’n plakkaat aan die brand gesteek. Die brand het kort daarna buite beheer geraak.
Een van die wagte van die veiligheidsmaatskappy 4R Security, wat onlangs aangestel moes word weens die gebrek aan krag, het daarin geslaag om een van die verdagtes aan te keer. Die verdagte het egter ontsnap. Twee baadjies het op die toneel agtergebly. Die baadjies is na die plaaslike misdaadrekordsentrum vir DNS-toetse gestuur.
Leerders kon nie verlede Maandag skool bywoon nie en sommige het Dinsdag ook by die huis gebly.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Die skool en sy leerkragte stoei voort met die verlies van skryfbehoeftes, lees- en skryfboeke, handboeke, leë venster-rame en die toksiese reuk van rook en roet wat in die lug hang. Onderrig gaan sedertdien voort sodat geen verdere kosbare onderrigtyd verlore gaan nie.
Van die besittings is deur lede van die gemeenskap as onvervangbaar beskryf.
Die heining is ook in die proses verwoes nadat die misdadigers dit geknip het om toegang te verkry.
Bronagh Hammond, ’n woordvoerder vir die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sê hulle is bewus van die voorval. “Die leerders het toestemming van die departement gekry om Maandag tuis te bly sodat die omvang van die skade bepaal kon word. Veiligheidsaspekte is ook in ag geneem voordat leerders kon terugkeer skool toe”.
Die ingang van die skool en die plek waar leerders hul maaltye ontvang, is ook deur die brand geraak, het die departement uitgebrei. “In die geval van ’n brand word die omvang van die skade bepaal en die nodige reëlings sal getref word vir ’n alternatiewe spasie indien nodig terwyl herstelwerk voortgaan.”




