Om ’n mes te gryp en weerlose slagoffers dood te steek of te probeer doodsteek, het ’n gewetenlose moordenaar vandeesweek altesaam 76 jaar tronkstraf op die hals gehaal.
In die geliefde boervrou van Moorreesburg, Ingrid Koch (65), se geval het die gewoontemisdadiger Duran Constable (35) April verlede jaar daarin geslaag. Sy is dood nadat hy haar onder meer in die nek gesteek het. Haar man, Frans (70), het die aanslag net-net oorleef, hoewel hy sy bes gedoen het om Constable af te weer, maar hy was self swak weens die kankerbehandeling wat hy destyds ondergaan het. Hy is inderhaas na die Mediclinic Paarl geneem, waar hy geopereer en later ontslaan is.
Regter André le Grange van die Kaapse hooggeregshof het Constable Maandag 6 November tot 30 jaar gevangenisstraf vir die koelbloedige moord op Ingrid gevonnis.
Volgens kapt. Tania Helfrich, ’n polisiewoordvoerder, het Le Grange Constable ’n verdere vonnis van 10 jaar opgelê vir roof met verswarende omstandighede en 15 jaar vir poging tot moord. Hy het ook drie jaar bygevoeg vir huisbraak, wat die totale vonnis te staan bring op 58 jaar gevangenisstraf.
Die res van die straf van 76 jaar spruit uit ’n voorval in Laaiplek op 23 Januarie 2022 by ’n huis in Noordhoek, Velddrif.
Constable het die huis binnegedring en ’n 28-jarige vrou probeer verkrag. Die slagoffer het ’n mes gegryp om hom mee af te weer, maar hy het die mes by haar afgevat en haar twee keer in die regterboarm gesteek. Sy het egter daarin geslaag om na die bure te vlug en die polisie te ontbied.
Constable is op die toneel in hegtenis geneem.
Terwyl dié saak van poging tot verkragting en huisbraak nog in die Laaiplek-landdroshof aan die gang was, het Constable hom omstreeks 10:30 op 5 April 2022 op die Klipheuwel-plaas by Moorreesburg bevind.
Volgens Helfrich het Constable die plaas betree en na die agterdeur van die plaasopstal gegaan, waar hy gemaak het of hy dors is en die huiswerker vir water gevra.
Daar het hy ’n mes in die kombuis gevat en die werker gevolg tot waar die Koch’s dieper in die huis was.
’n Stoeiery het gevolg met Ingrid wat om hulp geskree het terwyl Constable haar met die mes gesteek het.
Frans het probeer ingryp en self verskeie steekwonde opgedoen.
Ingrid is bykans dadelik dood, waarop Constable die halssnoer wat om haar nek was, afgeruk en daarmee weggehardloop het.
Plaaswerkers het die huiswerker se noodkrete om hulp gehoor en Constable agternagesit.
Hulle het hom ingehaal en aangehou totdat die polisie hom in hegtenis kom neem het.
Die familie het verlede jaar gesê dié huiswerker se vinnige optrede het Frans se lewe gered.
Constable het ’n paar keer in die Moorreesburg-landdroshof verskyn voordat die saak na die hooggeregshof oorgeplaas is. Hy het nooit om borgtog aansoek gedoen nie.
Vir die Laaiplek-aanval is hy tot drie jaar vir huisbraak en 15 jaar vir poging tot verkragting gevonnis – altesaam 18 jaar tronkstraf.
Helfrich het gesê Constable het sy misdaadloopbaan reeds in 2005 op 17-jarige ouderdom begin. Hy is in daardie jaar vier keer aan diefstal in Laaiplek skuldig bevind en ’n jaar en ses maande tronkstraf opgelê.
Nog van die sake waarin hy skuldig bevind en gevonnis word, sluit in: ’n Jaar en ses maande tronkstraf vir inbraak in Laaiplek in Junie 2010; in 2013 twee jaar tronkstraf vir diefstal vanuit ’n voertuig, ’n jaar vir die verontagsaming van ’n beskermingsbevel en twee jaar vir inbraak – alles in Laaiplek; in 2018 ’n verdere jaar en ses maande tronkstraf, opgeskort vir vyf jaar, vir ’n inbraak in Laaiplek; en in 2019 ’n jaar en ses maande vir diefstal in Vredenburg en aanranding met die doel om ernstig te beseer. Constable is net ’n jaar voordat Ingrid vermoor is, tot vyf maande tronkstraf vir opsetlike saakbeskadiging in Laaiplek gevonnis.
Genl.maj. S.W. Dyantyi, distrikskommissaris van die Weskus-polisiedistrik, het die ondersoekbeamptes in die saak, speur-AO Cornelia Rudman van Moorreesburg en speursers. Emilio Benjamin van Laaiplek, geprys vir hul buitengewone vasberadenheid om ’n gewetenlose misdadiger voor die hof te bring.





