Opruiming van ‘n ongelukstoneel in Moorreesburg waar ‘n lokomotief en vragmotor gebots het is Maandag 13 November voltooi.
Inwoners en motoriste is verlede week aangeraai om Piketbergstraat in Moorreesburg te vermy nadat ’n lokomotief, wat Dinsdag 7 November deur die dorp gery het, teen ’n vragmotor vol lupiene gelaai, gebots het.
Die botsing het omstreeks 12:00 die middag by die Rosenhof-treinspoorkruising plaasgevind.
Die vragmotorbestuurder het volgens ’n polisiewoordvoerder, AO Nicolette Visagie, slegs ligte beserings opgedoen.
Geen ander motoriste of voetgangers is in die botsing beseer nie.
’n Klagte van roekelose en nalatige bestuur word tans deur die plaaslike polisie in Moorreesburg ondersoek.
’n Stop-en-ry-stelsel is sedert Woensdag opgestel om motoriste rondom die ongelukstoneel te begelei. Lede van die plaaslike wetstoepassingsdienste in samewerking met ’n ingenieurspan van Transnet was Vrydag op die toneel om die lokomotief te begin verwyder. Volgens die jongste inligting is die toneel Vrydagmiddag grootliks opgeruim nadat Transnet daarin kon slaag om die trein op te lig en te verwyder. Rosenhofweg was ook Vrydagmiddag reeds oopgestel vir verkeer en voetgangers. Die laaste opruimingswerk is Maandag (13 November) afgehandel nadat daar ‘n lekkasie was wat deur die plaaslike brand- en reddingsdienste, wat deurgaans op die toneel was tydens die opruimingswerk, opgeklaar is. Die vrag lupiene is intussen deur plaaslike instansies in sakke gelaai en verwyder.
Alle pogings om die ongelukstoneel op te klaar, is deur die Weskus-distriksmunisipaliteit se rampbestuursafdeling gekoördineer.




