Hoewel die laaste afrondingswerk gedoen word, is die De Zwartland Markt-winkelsentrum in Malmesbury slaggereed om sy deure Donderdag (23 November) te open. Foto: KLS Consulting Engineers


Groot opgewondenheid heers oor die opening van die De Zwartland Markt, wat sy deure Donderdag (23 November) amptelik oopgestel.

Die winkelsentrum is deel van die multimiljoenrandse De Zwartland Werf- meerdoelige ontwikkeling deur die Devmark-eiendomsgroep.

Hein Ehlers, die uitvoerende hoof van die Devmark-eiensdomsgroep, beskou die ontwikkeling as ’n ongelooflike prestasie. “Dit is voorwaar ’n prestasie. Dorpstraat en hul span het byna die onmoontlike vermag om ’n winkelsentrum van 15 000 m² binne 12 maande te bou en te voltooi,” vertel hy opgewonde.

Hy sê hy glo die nuwe winkelsentrum sal ’n blywende impak op die inkopie-ervaring van die inwoners van die omgewing hê. Hy dink terug en vertel talle pogings is verskeie kere voorheen aangewend om die grond te ontwikkel, maar sonder sukses.

“Die omvangryke infrastruktuur en grondwerk wat nodig was ten einde die perseel te ontwikkel, was ’n uitdaging. Ons is dankbaar en trots dat ons die uitdagings kon oorkom en ’n suksesvolle projek van die grond af kon kry. Dit is altyd ons missie om ’n blywende verandering en verbetering te maak deur ons ontwikkelings, soos ons weer eens met De Zwartland Werf vermag het,” voeg Ehlers by.

Die De Zwartland Werf- meerdoelige ontwikkeling is die eerste van sy soort in die Swartland-distrik en sal by voltooiing wêreldklas- mediese dienste verskaf, vir die inwoners van die streek ’n moderne, uitgebreide inkopie- en verblyfervaring skep en dit alles binne ’n veilige omgewing, brei hy uit.

“Iets waaroor ons veral opgewonde is, is die groot aantal werksgeleenthede wat deur hierdie ontwikkeling geskep word.”

Raadsheer Harold Cleophas, uitvoerende burgemeester van die Swartland, sluit daarby aan en sê dit is baie bemoedigend om te sien hoe Malmesbury en die Swartland in die geheel in ’n moeilike ekonomiese klimaat beleggers lok en dat die Swartland as ’n sinvolle en waardevolle beleggingsgeleentheid geag word.

Volgens hom het ligging wel ’n rol gespeel, maar hy glo goeie bestuur en die behoorlike munisipale regering het gehelp om Malmesbury ’n aantreklike beleggingsgeleentheid te maak.

Die uitvoerende hoof van Devmark Eiendomsgroep, Hein Ehlers wys na die leë stuk grond gedurende die sooispit-geleentheid van De Zwartland Werf in Maart verlede jaar. Foto: Charlotte Lesch

Cleophas herinner inwoners die opening van die nuwe winkelsentrum en ook die nuwe hospitaal wat volgende opgerig gaan word, het reeds honderde werksgeleenthede geskep en daardie ontwikkeling sal nóg werksgeleenthede vir die gemeenskap tot gevolg hê.

“Ek is oneindig dankbaar daarvoor. As ’n munisipaliteit kan ons nie werksgeleenthede skep nie – slegs die private sektor kan werksgeleenthede skep. As plaaslike regering is dit ons verantwoordelikheid om ’n aantreklike beleggingsomgewing te skep waar sake maklik kan floreer, en ons kry dit reg deur seker te maak ons lewer goeie basiese dienste en beperk administratiewe rompslomp.”

Die uitvoerende burgemeester het bygevoeg hoe opgewonde hy is oor die opening van De Zwartland Markt. “Noudat die groot dag amper hier is, is ek baie opgewonde.”

Cleophas het erkenning gegee aan al die munisipale personeel wat gehelp het om hierdie sentrum te realiseer.

Volgens die Malmesbury-sakekamer se voorsitter, Brian Siebritz, gaan elke dorp gepaard met ontwikkeling. “Die nuwe mall is die nuutste hiervan vir Malmesbury en die omliggende dorpe in die Swartland. Werksgeleenthede gedurende die konstruksiefase is ’n groot finansiële inspuiting vir huishoudings, wat dan weer besteding moontlik maak,” verduidelik Siebritz.

Hy stem saam die uitbreiding van die ontwikkeling sal die mark nog langer stimuleer, maar voeg by die sakekamer is wel bekommerd oor die invloed wat die winkelsentrum op die middedorp gaan hê. “Gesprekke rakende die middedorp word met die betrokke rolspelers beplan,” sê Siebritz.

Ongeag die bekommernisse ondersteun die Malmesbury-sakekamer die ontwikkelaars en die sakekamer is dankbaar teenoor hulle wat bereid is om hier te belê. “Ons sal definitief met al die nuwe ondernemings kontak maak en ons moedig hulle aan om lede te word.”

Volgens Cleophas is hierdie ontwikkeling net die begin. “Ek weet hierdie is net die begin – nie net vir Malmesbury nie, maar vir al ons dorpe. Swartland is beleggingsgereed,” het Cleophas opgewonde afgesluit.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article