Diesel word sedert twee maande gelede op ’n grootskaalse wyse op plase en ander persele in die omgewing van die Swartland gesteel.
Volgens die plaaslike polisiewoordvoerder sers. Henry du Randt is diesel voorheen stelselmatig op plase gesteel. Nou het die diefstal van diesel in die streek “vlamgevat” met duisende liters diesel wat op ’n keer gesteel word.
Diesel is die vorige naweek onder meer op verskeie plase in die omgewing van Malmesbury gesteel.
Kanne diesel is gesteel, terwyl landbouprodusente se stropers, wat as gevolg van oestyd op landerye oornag, van hul dieselvoorraad gestroop is.
Die polisie het ’n versoek aan landbouprodusente gerig om die nodige veiligheidsmaatsreëls in te stel om verdere voorvalle te voorkom.
Volgens Du Randt word nou saamgewerk met plaaseienaars in die omgewing om verdagtes suksesvol vas te trek.
Die polisie vermoed ’n sindikaat is by die diefstal betrokke.
Geen voorvalle is sover bekend die afgelope naweek aangemeld nie.




