Die uitvoerende burgemeester van die Swartland, Harold Cleophas, het Donderdag 23 November die voorreg gehad om die lint van De Zwartland Markt te knip en die nuwe sentrum amptelik oop te verklaar. Van links staan die onderburgemeester, Anet de Beer, Chris Neser (Abcon-groep), Dave Savage (Abcon-groep), Sam Kelbrick (Dorpstraat), Etienne Eygenberger (Dorpstraat se ontwikkelingsbestuurder), Johan Mouton (RPA-eindomsadministrateur), Tijmen van Essen (raadsheer) en Cleophas by die ingang van die nuwe winkelsentrum. Foto: Charlotte Lesch


Inwoners van die Swartland en gaste se opgewondenheid oor die amptelike opening van De Zwartland Markt gerieflikheidsentrum is Donderdag 23 November met hul eerste besoek begroet met welkome winskopies, vriendelike personeel, ’n verskeidenheid winkels, vermaak en ’n inkopie-ervaring om na terug te wil keer.

Die ontwikkeling word deur rolspelers beskou as ’n merkwaardige mylpaal vir Malmesbury en die omliggende omgewing.

Die winkelsentrum, ontwikkel deur Dorpstraat, wat aan Dorpstraat Capital Growth Fund en die Abcon-groep behoort, is die eerste van sy soort in die streek wat volgens voorspelling die voorkeurkeuse vir inkopies deur die gemeenskap van die Swartland gaan word.

Die uitvoerende burgemeester van die Swartland, Harold Cleophas, wat vir die knip van die seremoniële lint verantwoordelik was, het die verwelkoming van De Zwartland Markt as ’n voorreg beskryf.

“Elke kleinhandelaar en kettingwinkel, wat deel is van die ontwikkeling, sien die potensiaal en waarde wat dit bring om hulself in die Swartland te kom vestig,” het hy gesê.

Volgens Cleophas is die ontwikkeling ’n bewys dat die streek in die regte rigting beweeg. Hy het alle rolspelers betrokke by die ontwikkeling, insluitend Dorpstraat en die Devmark-eiendomsgroep, bedank vir hul ondersteuning en die potensiaal wat hulle in Malmesbury raakgesien het.

Volgens Dorpstraat, ’n ontwikkeling- en eiendombeleggingsonderneming wat in winkelsentrums spesialiseer, het dit inderdaad ’n dorp gevat om die ontwikkeling in ’n rekordtyd te voltooi.

Kobus en Margaret Rossouw, ook betrokke by die plaaslike sakekamer van Malmesbury, het die winkelsentrum op hul openingsdag kom ondersteun.

Michelle Engelbrecht van Dorpstraat en Paul Fouche van Food Lover’s Market glimlag breed van opgewondenheid gedurende die amptelike opening van De Zwartland Markt.

Angelique Papier van Checkers was opgewonde om kliënte gedurende openingsdag te ontvang.

Van links staan Etienne Eygenberger, direkteur van Dorpstraat, Richard Edwards van Nedbank en Hein Ehlers, die uitvoerende hoof van Devmark-eiendomsgroep en gesels kort voor die lintknip seremonie.

Dorpstraat se ontwikkelingsbestuurder, Etienne Eygenberger, het die openingsdag as baie spesiaal beskryf. Volgens hom is Malmesbury op sigself spesiaal. “Ons het al ’n geruime tyd na geleenthede in en om Malmesbury gekyk en is bevoorreg om De Korenvlij ook te kan besit. Dit het ons ’n voet in die deur gegee van hoe die mark is en hoe die mark bestee,” het Eygenberger oor hoe De Zwartlandt Markt tot stand gekom het, uitgebrei. Hy het nie geskroom toe Hein Ehlers, die uitvoerende hoof van die Devmark-eiendomsgroep, hom gevra het om by die ontwikkeling van De Zwartland Werf betrokke te raak nie. “Ek sal nooit sy woorde aan my vergeet nie. Hy was ‘intrigued’ deur Malmesbury.”

Eygenberger het volle krediet aan die uitvoerende burgemeester en sy span gegee, wat die inisiatiewe begin het om Malmesbury “op die kaart te sit”. “Die pro-aktiewe benadering van Malmesbury se stadsraad is ook net fenomenaal. Malmesbury het die geleentheid om die volgende satelliet dorp van die metropool te word. Hier is baie potensiaal. Ek dink ons het ’n baie spesiale produk hier.”

Die ankerwinkels, naamlik Checkers en Food Lover’s Market word onder meer ondersteun deur ’n verskeidenheid nasionale kleinhandelaars, boetiekwinkels, ’n Clicks-apteek en restaurante en wegneemete-fasiliteite. Volgens die ontwikkelaars is die uitleg van die sentrum spesifiek ontwerp om ’n welkome atmosfeer te skep.

Soos met enige ontwikkeling het die span van Dorpstraat voor ’n paar struikelblokke te staan gekom, soos die hoë klei-inhoud in die grond en ’n jaar wat rekordhoë reënvalvlakke sedert 1992 ervaar het.

Alle uitdagings is getroef met ’n voltooide winkelsentrum as eindresultaat om op trots te wees, lui ’n verklaring.

Sprake van ’n potensiële 3 500m² se uitbreiding is reeds op die tafel met die installering van sonkragpanele vir optimale energieverbruik wat binnekort plaasvind.

Handelsure van De Zwartland Markt is:

Maandae tot Donderdae van 09:00 tot 18:00

Vrydae van 09:00 tot 19:00.

Saterdae van 09:00 tot 17:00

Sondae: 09:00 tot 14:00.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article