Die lewensgrootte tekening van ’n blouwalvis by die Yzerfontein-hawe. Foto: verskaf


’n Tekening van ’n reusewalvis op die parkeerterrein van Yzerfontein se hawe het groot genot opgelewer nadat ’n jong inwoner wou kyk presies hoe groot die seedier nou regtig is.

Arno van der Vyfer (19), wat pas aan Curro Langebaan gematrikuleer het, het sowat ’n jaar gelede ’n idee gehad om ’n lewensgrootte walvis te teken en het besluit die hawe sou die beste plek vir die oefening wees.

“Ek wou baie graag sien hoe groot die grootste dier op aarde, die blouwalvis, regtig is,” verduidelik hy.

Van der Vyfer wou verder van die geleentheid gebruik maak om bewustheid oor hierdie diere, asook ander seediere, onder mense te skep.

“Die hawe was ’n gepaste plek, want dit was groot genoeg, by die see en lok baie mense – veral nou gedurende die vakansietyd,” brei hy uit.

Hy het aanvanklik by die hawe se kantoor vir toestemming gevra, wat hom na die Swartland-munisipaliteit verwys het. ’n Jaar het verbygegaan waartydens hy geen terugvoering gekry het nie, maar hy het besluit om weer te probeer. Toestemming is uiteindelik binne twee dae verkry en planne is gemaak om op 4 Desember met die projek te begin.

Van der Vyfer het begin deur ’n kleiner, meer eenvoudige skets op ’n stuk papier te teken. “Ek moes na foto’s van blouwalvisse op die internet kyk om die proporsies reg te kry. Ek het die skets van die walvis noukeurig gemeet en omdat die bladsy 30 cm lank was, kon ek 1 cm op die papier na 1 meter in die regte lewe oorskakel, wat alles baie makliker gemaak het,” verduidelik Van der Vyfer oor hoe hy te werk gegaan het om die projek ’n werklikheid te maak.

Hy, sy ma, Michelle Van der Vyfer, ’n vriend, Connor Christison, en twee gesinsvriende, Lance en Irene von Buddenbrock, het gehelp om die walvis te teken. Hulle het begin deur ’n middellyn te teken van waar die punt van die walvis se neus sou wees, tot by die stert. Toe hulle klaar was, was die walvis sowat 29 meter lank.

Die skets het die groep sowat vyf ure en sewe pakke groot bordkryte geneem om te voltooi. Die pakke kryte het wel verskillende kleure gehad, waarvan nie almal gebruik is nie, voeg hy by.

Van der Vyfer vertel hy het nog altyd in die natuur belang gestel. “Almal in ons buurt het my leer ken as die kind wat skerpioene, slange en ander goggas gevang het,” voeg hy by.

Van der Vyfer het as kind baie die geleentheid gekry om met ’n boot op die see uit te gaan en die seelewe waar te neem, omdat sy pa vryduik.

“Ek duik al ’n hele paar jaar saam met my pa en neem foto’s van amper alles wat onderwater lewe,” verduidelik hy.

Volgens hom stel hy belang in walvisse omdat hulle soogdiere is, nie visse nie.

“Hulle is nie net baie unieke soogdiere nie, maar hulle is van die grootste en mees ‘majestic’ diere op die aarde.”

Hy brei uit en vertel van ’n muur in sy slaapkamer waarop hy graag seediere, insluitend walvisse, teken.

Deesdae beywer hy hom ook met die webblad iNaturalist, waar mense foto’s van diere kan oplaai en identifiseer.

Van der Vyfer hoop om volgende jaar ’n graad in Bsc (bodiversiteit en ekologie) by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer.

Die tekening vervaag elke dag, hoewel heelwat mense dit al gesien het.

“Ek hoop almal wat dit gesien het, net so opgewonde daaroor was as ons toe ons die voltooide projek gesien het,” sê hy opgewonde. Die foto wat op sosiale media gelaai is, het ook talle positiewe terugvoer gekry.

Van der Vyfer is baie dankbaar teenoor die munisipaliteit en Neale Africa by Yzerfontein se toerismekantoor dat hy die geleentheid gegun is om sy projek te voltooi en met ander mense te deel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article