Mediclinic Suider-Afrika het Vrydag in ’n verklaring bevestig ’n motoris het Dinsdag 5 Desember omstreeks 12:00 teen hul mediese fasiliteit se restaurant gebots.


Malmesburiërs herstel nog van die skok nadat hulle ’n noue ontkoming met ’n aankomende voertuig binne die restaurant van die Mediclinic Cape Gate in Brackenfell gehad het.

Mediclinic Suider-Afrika het Vrydag in ’n verklaring bevestig ’n motoris het Dinsdag 5 Desember omstreeks 12:00 teen hul mediese fasiliteit se restaurant gebots. Die restaurant is by die hospitaal se ingang geleë.

Mediclinic Suider-Afrika het Vrydag in ’n verklari

Mediclinic Suider-Afrika het Vrydag in ’n verklaring bevestig ’n motoris het Dinsdag 5 Desember omstreeks 12:00 teen hul mediese fasiliteit se restaurant gebots.

Michelle Müller en haar man, Theuns, van Malmesbury, het die hospitaal verlede Dinsdag vir bloedtoetse besoek en besluit om in die kafeteria op die uitslae te wag toe ’n silwer VW Polo met ’n spoed deur die venster van die restaurant gebars het.

Michelle se rug was op daardie tydstip na die venster gedraai.

Die volgende oomblik het sy die angs in haar man se oë gesien en besef iets is fout. “Hy het spierwit geraak, ons dogtertjie, Gabby, uit haar waentjie gegryp en gehardloop kort voordat die kar deur die venster gebars het.”

Die voertuig het Müller self met enkele millimeters gemis. “Ek het die volgende oomblik net glas gevoel wat teen my gespat het,” vertel sy.

Müller het die voorval as onwerklik beskryf. “Dit het so vinnig gebeur, maar tog in slow motion soos in Grey’s Anatomy. Alles het net stil geraak om ons toe dit gebeur het.”

Die restaurant was in daardie stadium stampvol – so vol dat Linda Bain, ook van Malmesbury, nie dadelik ’n sitplek kon kry nie. “Ek kom gereeld by Mediclinic Cape Gate, maar het nog nooit die kafeteria besoek nie.”

Op daardie dag het sy besluit om wel iets te gaan kry om te drink en te eet voordat sy weer na haar werk toe moes terugkeer. Bain het eers buite op Johannes Boshoff, ook van Malmesbury, gewag toe sy besluit om in te gaan. “Ek het aanvanklik by die toonbank vir ’n tafel gewag, waar mense besig was om te betaal. Hulle het te lank gevat, toe deel ek ’n tafel met ’n ander vrou.”

Bain sê sy het ’n gevoel gekry om nie by daardie tafel te gaan sit nie. “Dit was juis die tafel wat teen die venster was waardeur die kar gery het.”

Die harde slag sal haar en Boshoff nog vir lank bybly. “My eerste gevoel was van woede. Jy sien die kar kom en hou net aan met ry en stop nie. Ek het gedink dit is iemand wat kwaad is vir die lewe. Ek dink dit gaan mense ’n rukkie neem om oor dit te kom.”

Die restaurantgangers is ’n geruime tydjie eenkant gehou, waartydens die personeel van die hospitaal suikerwater aan hulle gegee en seker gemaak het niemand het verdere mediese behandeling nodig gehad nie.

Bain onthou ook hoe mense geskree het. “Die bejaarde besoekers was baie geskok,” voeg Müller by.

Sy vertel hoe een tannie langs haar nog die een oomblik niks makeer het nie en die volgende oomblik flougeval het.

Bain het gesien waar die Müllers gesit het. “Die kar het haar met ’n tafel se breedte gemis,” voeg sy by.

Die Müllers se hele gesin, insluitend Gabby, wat op daardie dag drie weke oud was, sowel as Bain en Boshoff het geen beserings opgedoen nie.

Altesaam agt individue is tydens die voorval beseer en het kort daarna mediese behandeling op die toneel ontvang. Die beseerdes is na die hospitaal se noodeenheid geneem vir verdere behandeling.

Volgens die verklaring sluit die pasiënte twee personeellede asook die bestuurder en die passasier van die voertuig en ander bystanders in.

Die pasiënte is intussen ontslaan nadat hulle die nodige behandeling ontvang het.

Mediclinic het bevestig dat hy gratis emosionele-trauma-berading as ondersteuning aan alle individue wat deur die voorval geraak is, sal gee. Die mediese hospitaalreus het op navraag oor die bestuurder gereageer en gesê Mediclinic is nie in ’n posisie om te spekuleer oor die oorsaak van die ongeluk of die bestuurder nie. “Ons bedank alle personeel vir hul spoedige optrede en ondersteuning,” lui die verklaring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article