Lt.kol. Bertus Conradie tree op 30 Desember vanjaar finaal uit die Suid-Afrikaanse polisiediens.
Conradie is in 1964 op Sutherland gebore en het in die geskiedkundige dorpie Matjiesfontein grootgeword.
Hy was reeds vanaf graad 1 in die kosskool op Laingsburg, waar hy sy skoolloopbaan in 1982 voltooi het. Dit was juis in sy matriekjaar toe hy besef het hy wil ’n loopbaan in die polisie volg.
Die indruk wat die plaaslike polisiemanne destyds op hom gemaak het, het Conradie oortuig hy wil ’n ook ’n polisieman word. Hul netheid, netjiese uniform en dissipline en die standvastigheid van ’n loopbaan het ’n sleutelrol gespeel, maar hy wou ook waarlik ’n verskil maak. “Dit is die antwoord wat almal gee, maar wat so waar is, om ’n verskil in ’n gemeenskap te maak en mense te dien,” brei hy uit.
Conradie het sy opleiding in 1983 by die Polisiekollege in Pretoria voltooi.
Sy eerste aanstelling was daardie selfde jaar op 1 Julie toe hy as konstabel in Laingsburg begin werk het.
Hy is in 1993, as adjudantoffisier, as stasiebevelvoerder in McGregor aangestel, waar hy later ook na luitenant (ou range) bevorder is.
“Ek is gedurende 1998 as bevelvoerder van die speurdiens met die rang kaptein in Bonnievale aangestel,” dink hy terug.
Conradie is byna 11 jaar later as stasiebevelvoerder bevorder.
Hy het op 1 Oktober 2014 in die Swartland beland, waar hy as luitenant-kolonel in Moorreesburg aangestel is. Dit is nou hier waar hy ná 41 jaar in die polisiediens sal uittree.
Volgens Conradie sal hy die samehorigheid van polisielede en om ’n gemeenskap te dien, baie mis, asook die mense wat hy ontmoet het. “Daar is te veel om te noem wat ’n impak op my lewe en loopbaan gemaak het.” Hy voeg by om iemand in nood te help, het altyd met groot dankbaarheid gepaard gegaan.
Dit is tragiese gebeure wat hom altyd sal bybly en waaroor hy nie veel wil uitbrei nie.
Conradie sê hy sal die dood of selfdood van polisiemanne, die vind van liggame van kinders, motorbotsings op die N1 en N7 en aanvalle of moorde op bejaardes in hul huise, nie sommer vergeet nie.
Op ’n positiewe noot was erkenning vir prestasies altyd ’n hoogtepunt.
Hy sê die einde van Covid-19 was vir hom een van die mees uitdagende tydperke om te polisieer, maar voeg by die polisie was nog net goed vir hom. “Dit is al wat ek ná skool wou doen,” voeg hy by.
Hy en sy vrou, Christelle, gaan in Moorreesburg aanbly, waar hy vir nou eers wil rus, sy aftrede geniet en tot verhaal wil kom.
Hy geniet dit ook om oupa te wees vir sy drie kleinkinders wat onderskeidelik in Koringberg en Somerset-Wes woon. “Daarom bly ek graag in Moorreesburg, en Somerset-Wes is naby,” sê Conradie, wat glo en vertrou iets sal weer oor sy pad kom waarmee hy hom sal kan besig hou.





