Vanjaar se tafeldruiwe is van die beste gehalte in ’n lang tyd, meen kenners. Tumisa Nkanunu van die plaas Steenebrug, wat Saterdag (13 Januarie) by die Bergrivier-tafeldruiwe-produsentevereniging se jaarlikse wingerdblok-kompetisie as die wenner in die afdeling vir die beste produksieblok aangekondig is, hurk by hul Sweet Globe-druiwe. Foto: Bergrivier-tafeldruifvereniging.


Vanjaar se tafeldruifseisoen toon uitstekende gehalte – só vertel Eurica Scholtz, voorsitter van die Bergrivier-tafeldruifvereniging.

Vanjaar se tafeldruiwe is van die beste gehalte in

Vanjaar se tafeldruiwe is van die beste gehalte in ’n lang tyd, meen kenners. Tumisa Nkanunu van die plaas Steenebrug, wat Saterdag (13 Januarie) by die Bergrivier-tafeldruiwe-produsentevereniging se jaarlikse wingerdblok-kompetisie as die wenner in die afdeling vir die beste produksieblok aangekondig is, hurk by hul Sweet Globe-druiwe. Foto: Bergrivier-tafeldruifvereniging.

“Die gehalte is die beste in ’n lang tyd,” brei sy uit. Volgens Scholtz was die natuur gedurende die 2023- en ’24-seisoen goed vir die bedryf. “Ons het ook nie enige plae of peste gehad nie. Die erge wind en reënval wat ons gedurende verlede jaar se winter ervaar het, het nie skade op alle tafeldruifplase in die omgewing veroorsaak nie. Net sommige plase het windskade opgedoen waartydens lote afgebreek het. Dit hang af waar die plase geleë is. Die nette verskaf ook baie beskerming,” sê sy dankbaar. Scholtz sê verder die seisoen is redelik betyds. “Sommige kultivars was vroeër gereed terwyl ander weer later is.”

Sy verwag die bedryf sal weer ’n bottelneksituasie ervaar wanneer kultivars tegelyk reg sal wees vir oes.

Die Bergrivier-tafeldruifstreek mik om vanjaar sowat 19 miljoen kartonne uitvoerdruiwe van 4,5 kg te pak.

“Tans is die gehalte besonders goed en weersomstandighede is baie gunstig,” voeg Scholtz by.

“Al wat wel pla, is die hawens. Dit neem soms weke voordat die produk aan die ander kant (buitelandse markte) aankom. Dit is baie sleg. Die koelketting word verbreek en die gehalte word belemmer.”

Johan Vlok, ’n produsent in Riebeek-Kasteel, sê al die tafeldruifkultivars is in hierdie stadium een tot twee weke vroeër. “Die laat kultivars kleur redelik mooi,” voeg hy by. Vlok beskryf vanjaar as ’n normale jaar, terwyl die produksie effens toegeneem het. Hoewel sommige produsente sê die korrels is ’n bietjie ligter as die vorige seisoen, kon Vlok nog nie bevestig dat dit die geval by hulle is nie. Hy is dit eens dat die enigste uitdaging tot dusver die hawe is en om die druiwe op die bote te kry.

“Die (Kaapstad) hawe is nog ’n probleem. Hulle het nog nie eintlik die afgelope weke gelaai nie.” Volgens hom is hulle reeds vir byna ’n maand besig om te oes.

Volgens ’n verklaring deur die sagtevrugtebedryforganisasie Hortgro, is die produktiwiteit by die Kaapstad-hawe tans baie laag. “Suid-Afrika verloor markaandeel en sy reputasie as ’n betroubare verskaffer van hoëgehalte-vrugte, terwyl gehalte-eise toeneem,” waarsku die organisasie.

Die sewe bykomende rubberwiel-bokhyskrane wat in Desember by Kaapstad se hawe aangekom het – juis om die las gedurende vanjaar se besige seisoen te verlig – word nog nie gebruik nie. Volgens Hortgro het reeds drie bestaande mobiele hyskrane in week 52 van die seisoen gebreek, wat groot vertragings veroorsaak het.

Die verteenwoordigende liggaam vir die Suid-Afrikaanse Tafeldruifbedryf, Sati, het gister in ’n verklaring gesê hulle is bewus van die uitdagings wat die afgelope paar weke by die Kaapstad-hawe ervaar word en besef watter uitwerking dit op uitvoer kan hê.

Ná ’n vergadering op 11 Januarie tussen die vrugtebedryf en Michelle Philips (Transnet se waarnemende hoof) en sommige senior lede van Transnet, word verskeie strategieë geïmplimenteer.

Skeepslyne het sommige vaartuie strategies na Port Elizabeth se hawe herlei, wat die druk op die Kaapstad-hawe sal verlig. Uitvoerders vervoer ook van hul produkte via vragmotors sodat markte vroeër bereik kan word.

Die liggaam het in ’n ander verklaring gesê die verpakking van tafeldruiwe in die Bergrivierstreek vorder goed. “Die streek het meestal warm en droë weer ervaar, wat gunstige omstandighede is,” lui die verklaring wat weekliks deur die organisasie uitgestuur word.

“Die gebied het ’n bietjie reënval in Desember gehad, hoewel dit geen invloed op die vrugte gehad het nie. Die korrelgewig is wel laer as verlede jaar, wat moontlik deur September se koeler weer veroorsaak is. Dít kan die algehele oesgrootte beïnvloed, hoewel dit nog te vroeg is om te sê,” lui die verklaring.

“Sommige kultivars is sowat sewe dae vroeër as in die vorige seisoen. ’n Bottelnek-situasie word middel Februarie verwag namate meer kultivars ryp word,” voeg Sati by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article