Die plaas De Hoop lewer druiwe by Riebeek Kelder. Foto: Samuel Walters


Die parsseisoen van 2024 se wyndruiwe het vanjaar by die meeste kelders en wyndruifprodusente in die omgewing van die Swartland vroeër as gewoonlik begin.

Volgens produsente is die seisoen met sowat ’n week tot twee weke in sommige gebiede vroeër as gevolg van die hoë temperature wat ervaar is, ondanks goeie reënval gedurende 2023.

Hanno van Schalkwyk, die wingerdboukundige van Vinpro vir die Swartland-gebied en die Paarl, het bevestig vanjaar se seisoen is sowat ’n week vroeër as die vorige jaar.

“Die wingerd het vanjaar vroeg gebot. Met die laat en koue lente het ons gedink die seisoen gaan later wees. Met die warmer en droër weer sedert Oktober, het die oes vroeër begin,” sê Van Schalkwyk.

“In hierdie stadium lyk die wingerde goed. Die Pinotage, wat al gepars is, is aan die ligter kant; die vroeë goed is gewoonlik lig, daar is minder druiwe aan en die druiwe kan vinniger versuiker. Die oes vorder fluks met die warmer weer. Die druiwe is gesond, die gehalte lyk baie goed, en ek dink ons gaan mooi wyne sien.”

Jacques Theron, senior wynmaker van die Riebeek Valley Wine Co. in Riebeek-Kasteel, sê die oes het vanjaar bykans ’n hele week vroeër as die vorige jaar begin. Hoewel dit te vroeg is om te sê, skat hy vanjaar se oes gaan as gevolg van die hitte ’n afname van sowat 30% teenoor hul vorige jaar toon. Die wynkelder is wel tevrede met die gehalte van die wyndruifkorrels, hoewel die gewig nie vanjaar daar is nie.

Die kelder pronk met verskeie kultivars se wyndruiwe reeds in die tenke nadat hulle onder meer reeds alle chardonnay-, chenin blanc- en pinotage-blokke gepars het.

Volgens Theron is alle kultivars vanjaar gelyk ryp. Hul eerste blok shiraz was ook reeds teen verlede Maandag klaar gepars.

Peter Pentz, die kommunikasiebestuurder van Groote Post in die omgewing van Darling, het bevestig vanjaar se parstyd is al goed op dreef.

Hoewel die meeste wyndruiwe reeds vir vonkelwyn geoes is, lyk dit asof die pinot noir-oes redelik in ooreenstemming met die vorige jaar se oes is.

“ ’n Opvallende verandering is dat ons vanjaar 10 dae vroeër begin pars het weens relatiewe hoë hitte wat in die aanloop tot die oes ervaar is. Ons het pas sauvignon blanc-druiwe begin oes, waar ’n afname teenoor verlede jaar ervaar word,” het Pentz die vorige week bevestig.

Volgens hom is die wynkelder steeds baie optimisties oor die gehalte van vanjaar se oes.

Darling Cellars se wyndruifseisoen het in die derde week in Januarie met die kultivar chenin blanc vir sy Cap Classique-nektar begin, gevolg deur sy eerste pinotage druiwe, soos dié kelder op sosiale media gespog het.

Volgens die kelder het die koel seebriesie die wyndruiwe ná elke warm dag wat tot dusver beleef is, gedurende die nag afgekoel, wat tot dusver die resep vir perfekte groeiomstandighede is.

Volgens Wilhelm Relihan, ’n wyndruifprodusent van Riebeek Valley Wine Co, is sy oes van onder meer chardonnay ook ligter as die vorige jaar. Hy vermoed dat die chenin blanc en rooi wyndruiwe weer ’n groter tonnemaat sal oplewer. Relihan het sowat twee weke gelede begin pars.

Allesverloren het die vorige week laat weet dat hy het nog nie wyndruiwe begin pars nie.

David Sadie van David Nadia Wines is opgewonde oor vanjaar se parsseisoen. Volgens hom is hy tot dusver tevrede met hoe die parsseisoen verloop. Hy is dit eens dat korrels vanjaar wel kleiner is, maar sê dit is nie noodwendig ’n slegte ding is nie – danksy die surplus wyn wat Suid-Afrika tans het. Kleiner korrels bevat ook ’n hoër konsentrasie gehalte, hoewel die tonnemaat kleiner is, verduidelik hy.

Sadie sê hy is tot dusver tevrede met pinotage se oesgemiddelde, terwyl die chenin blanc wel afgeneem het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article