Die agtjarige Tekkie, ’n Jack Russel is uiters gelukkig om te leef nadat hy met ’n dodelike boomslang gestoei het.
Die slang het egter die kortste spit afgebyt.
Tekkie en sy eienaars, Adriaan en Annemarie Marais van Grottobaai, het vroeg verlede Maandagoggend (29 Januarie) na die Bergzicht-dierehospitaal in Malmesbury gejaag in die hoop dat hulle Tekkie sal kan red nadat hy deur ’n boomslang gepik is.
Die Marais se nagmerrie het begin toe hulle laat Sondagmiddag (28 Januarie) ’n dooie slang by hul honde Tekkie en Asjas se kosbakke gewaar. “Ek het my byna binne ’n ander bloedgroep geskrik toe ek die deur na hul kosbakke oopmaak en die slang sien,” dink Annemarie vandag terug.
Tekkie bring gedurig sy vangste en lê dit by sy kosbak neer vir sy ounooi om te sien, vertel Annemarie. Dié keer was dit egter ’n dodelike, maar gelukkig dooie, slang.
Volgens die Marais het Tekkie aanvanklik geen simptome getoon nie. Dr. Duandri Botha, ’n veearts by die Bergzicht-dierehospitaal, verduidelik die slagoffers van ’n boomslangbyt kan eers ná 25 uur simptome begin wys.
Annemarie het die volgende oggend besef iets is fout toe sy bloed by Tekkie se neus gewaar.
Adriaan, wat reeds op pad werk toe was, het omgedraai om Tekkie saam met haar na die naaste moontlike veearts te neem. “Ons laai toe vir Tekkie en die slang in, wat ons gelukkig nie weggegooi het nie.” ’n Slangvanger het hom intussen as ’n boomslang identifiseer. Die Marais-egpaar het eers die Yzerfontein-veeartsenykliniek se praktyk gebel, maar geen antwoord gekry nie omdat dit nog vroeg was.
Hul tweede oproep was na die Darling-dierehospitaal, waar die personeel met hul aankoms reggestaan het.
Geen veearts was ongelukkig daardie tyd van die oggend aan diens nie. Die praktyk se ontvangsdame het hulle toe na die Bergzicht-dierehospitaal verwys, waaroor hulle vandag baie dankbaar is.
“Ons het die Bergzicht-dierehospitaal gebel en gesê ons is op pad.”
Botha voeg by dat hulle toe reeds begin soek het na teengif, terwyl dr. Andries Groenewald, ook ’n veearts by Bergzicht-dierehospitaal, intussen op RSG gehoor het geen boomslangteengif is in die Wes-Kaap beskikbaar nie. Nog ’n hond, wat in Somerset-Wes deur ’n boomslang gebyt is, het teengif van so ver as 1 000 km weg uit Noordwes ontvang.
Botha het onder meer navraag op ’n veeartsenygroep gedoen, wat bevestig het dat die naaste teengif in Hartebeespoortdam is.
“Die span van Bergzicht-dierehospitaal het met ons aankoms reggestaan,” vertel Adriaan dankbaar. “Almal by die praktyk – van ontvangs tot by die agterdeur – het ingespring om te help. Dit was fantastiese diens. Hulle het ons so kalm gemaak.”
Tekkie het met sy aankoms Noodbehandeling gekry. By nadere ondersoek is vasgestel hy is op die bo- en onderlip gebyt.
Volgens Groenewald het hy en sy span Tekkie op ’n drup gesit en teenstol-medikasie begin gee, omdat ’n boomslangbyt hemotoksies van aard is.
Johan Marais, uitvoerende hoof vir die Suid-Afrikaanse Slangbyt-instituut, verduidelik ’n boomslangbyt het ’n uitwerking op die liggaam se vermoë om bloed te laat stol.
’n Kaapse Kobra wat ook in die Swartland voorkom, se gif is neurotoksies van aard, wat die senustelsel raak en gewoonlik asemhalingsprobleme veroorsaak, verduidelik Marais. ’n Pofadder, ook een van die gevaarlike slange wat in die omgewing voorkom, se gif is sitotoksies en tas onder meer die weefsel aan.
Marais het beaam dat ’n boomslangbyt wel ’n baie rare verskynsel is en dat teengif weens die kostes daarvan nie altyd beskikbaar is nie. “Die boomslang het sy eie monovalente teengifbehandeling, terwyl pasiënte wat deur ’n Kaapse kobra, mambas of pofadders gepik is, polivalente behandeling ontvang.
“Teengif is die korrekte en enigste behandeling vir erge slangbytvergiftiging,” voeg hy by. “Die behandeling kan slegs in hospitale of by veeartspraktyke gedoen word en ’n span dokters is vir die behandeling nodig,” voeg Marais by.
Dit was ook so in Tekkie se geval.
Die Marais-egpaar, wat na ’n koffiewinkel gegaan het terwyl die veeartse Tekkie behandel, het ’n oproep ontvang dat die teenstol-medikasie nie werk nie en dat teengif wel nodig is.
Die Marais-egpaar het veeartse van die suidelike voorstede van Kaapstad tot so ver as Pretoria gebel met die hoop om die regte teengif te kry. “Ons was bereid om die teengif per lugvervoer tot hier te kry,” vertel Adriaan.
Volgens Annemarie was tyd egter ’n faktor omdat Tekkie reeds die vorige dag gebyt is. Iets het op daardie tydstip vir haar gesê om die nommer te bel waar hulle vroeër geen antwoord gekry het nie. Die Yzerfontein-dierekliniek het toe wel die regte teengif gehad. Die nodige reëlings is inderhaas tussen die betrokke veeartse getref en die Marais-egpaar het weer in die motor op die pad na Yzerfontein gespring om die teengif te haan haal.
Nadat Dr. Maryke Bartmann ’n bloedoortapping gedoen en die nodige medikasie vir Tekkie gegee het om seker te maak dat daar geen negatiewe allergiese reaksie is nie, is die teengif stadig toegedien. “Daarna het die dokters vir ons gesê dat gebed al is wat nou gaan help. En so baie mense het vir die hondjie gebid,” voeg sy by.
“Die veearts het ons die volgende oggend gebel en laat weet dit goed gaan met Tekkie. Hy hardloop rond en merk elke hoek en draai. Ons was baie verlig. Daar was gewis trane van blydskap,” vertel Annemarie.
“Daar was ’n paar emosionele oomblikke, voeg Adriaan by. “Ons het die Here se hand gevoel.”
“Dit was ’n wonderwerk,” was Botha se reaksie.
Bartmann het gesê hulle almal was so bly oor Tekkie se spoedige herstel.
Adriaan het die span by Bergzicht-dierehospitaal geloof vir hul uitstekende diens en behandeling van Tekkie. “Tekkie is baie bly om by die huis te wees en maak nou permanent aanspraak op al die aandag wat hy by julle gekry het,” skryf hy op sosiale media.
Volgens Adriaan is hulle ewe dankbaar teenoor hul plaaslike gemeenskap en dié van Malmesbury se ondersteuning en gebede.
Die Marais’ is wel nie oortuig dat Tekkie sy les geleer het nie. “Nou weet hy hoe om dit te doen,” lag Annemarie.
Sy opvolgbesoek het bevestig dat Tekkie volkome herstel het.





