Die bekende digter en skrywer Betsie van Niekerk.


Malmesbury se Betsie van Niekerk sal vandeesweek haar eerste roman … so ook op die aarde in haar hande kan vashou.

Betsie is beter bekend as ’n digter en skrywer van bekroonde jeugverhale nadat twee van haar jeugverhale, Gamkab asook Anderkind, vroeër met die Sanlamprys vir Jeuglektuur bekroon is.

Sy beskryf haar eerste roman as “my hart se storie; ’n verhaal wat al ’n lang pad met my saamkom.

“… so ook op die aarde is nie ’n geestelike boek nie; eerder ’n kultuur-historiese roman wat in die afgeleë Kalahari afspeel. In ’n omgewing wat herinner aan Paella met ’n Rooms Katolieke kerk, ontmoet ’n jong Franse non karakters soos Vader Simon, ’n kind wat handeviervoet loop, die streng Suster Agnes, ’n verbitterde koster en die aardse Ouma Pop.”

“In wese gaan dit oor die liggaamlikheid van geloof,” vertel Betsie. “Dit verg ’n lang pad voordat die hoofkarakter besef hoe liggaamlikheid en geloof ineenvleg.”

Betsie, wat in Vredendal gebore is en in Clanwilliam gematrikuleer het, het die M.A.-graad (cum laude) in Afrikaanse Letterkunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy was in haar honneurs-jaar deel van DJ Opperman se Letterkunde-laboratorium saam met bekende skrywers soos Irna van Zyl.

Die skrywer was voorheen ’n Afrikaans- en Duits-onderwyser in onder meer Upington. Sy het onlangs na Malmesbury verhuis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article