Nadat Boland-krieket en Goldrush ’n vennootskap op ’n nuwe gemeenskapsklub-gebaseerde T20-kompetisie genaamd die Goldrush-Boland-Superliga (GBSL) op 10 Maart bekendgestel het, het ondersteuners hul lippe vir opwindende krieket afgelek.
Die Darling-krieketklub het sy groep spelers vir die opwindende T-20 toernooi Donderdagaand (14 Maart) by die Darling-sportterrein aangewys.
Darling Romery, Elsana Quarry, Sibathathu Mining, Kirsten Vervoer en Vertigo Resources, wat die span borg, het die historiese gebeurtenis bygewoon.
Die burgemeester van die Swartland-munisipaliteit, Herold Cleophas, het ook die geleentheid bygewoon en die spelers gemotiveer deur hul beste te lewer om die Swartland trots te maak.
Amanda Esau (Darling Romery) en Alistair Bobbejee (Vertigo Resources) het die wedstryd-uitrusting vir die Goldrush-BSL by die geleentheid aan die spelers oorhandig.
Tien Premierliga- en vier promosieliga-klubs van die huidige 2023-’24-seisoen en twee twee promotorskeuse-spanne neem aan die eerste Goldrush-BSL deel.
Darling het op 16 Maart na Vredenburg gereis waar hy in poel A kragte teen Piketberg, Vredenburg/Saldanha (Krewe) en Wellington Wolwe in die opwindende toernooi op die A- en B-sportvelde van Vredenburg aangedurf het.
Darling het besluit om eerste te kolf nadat hy die loot teen Piketberg gewen het en 128/6 lopies in sy toegelate 20 boulbeurte aangeteken. Piketberg is almal vir 122 uitgeboul, wat die melkboere se eerste oorwinning met ses lopies verseker het. In sy tweede wedstryd het hy die hoogaangeskrewe Krewe van Vredenburg/Saldanha getakel en die tuisspan vir 56 lopies uitgeboender om die beslissende wedstryd met 34 lopies te wen en ook sy plek te bespreek. In sy derde en laaste wedstryd op die B-veld het hy Wellington Wolwe met 42 lopies geklop. Darling het ’n skaflike 152/7 behaal en Wellington vir 110 uitgeboul.
Darling het die toestande tot sy voordeel gebruik en sy teenstanders uit die staanspoor laat les opsê.
Deur al drie sy wedstryde te wen, het Darling vir die kwarteindstryd teen Paarl-Oos, die naaswenner van poel B, op Donderdag 21 Maart op Bolandpark, gekwalifiseer.
In Poel B het Paarl, Bergrivier, Young Peoples en Paarl-Oos meegeding terwyl Maties, Van der Stel, Stellenbosch en Vics mekaar in Poel C aangedurf het. In Poel D het Robertson, Caledon, Worcester United en Hermanus mekaar die stryd aangesê.
Die voorste twee spanne in elke poel dring deur na die kwarteindronde, wat Saterdag 23 Maart in ’n dag-nag-eindstryd op Bolandpark uitloop.




