Die Swartland het volgens ’n onafhanklike navorsingsmaatskappy die beste munisipaliteit.
Die Swartland-munisipaliteit is nie net as die beste kleiner-dorp- munisipaliteit in die Wes-Kaap aangewys nie, maar is ook die munisipaliteit wat boaan die ranglys van besbesturende munisipaliteite in die land pronk. Dit is die bevinding van onafhanklike navorsing, gedoen deur Good Governance Africa vir 2024.
Die Bestuurprestasie-indeks (Governance Performance Index) vir 2024 toon die Swartland voldoen aan alle aspekte wat nodig is vir ’n munisipaliteit om optimaal te funksioneer.
Volgens die oorsig verskaf deur die 2024 GPI, is alle munisipaliteite van reg oor die land gemeet ingevolge dienslewering, ekonomiese ontwikkeling, administrasie en beplanning, monitering en evaluering, leierskap en bestuur. Dienslewering wat die meeste gewig dra, sluit onder meer die versekering van basiese dienste soos water, sanitasie, elektrisiteit en vullisverwydering in. Nie net is die beskikbaarheid van dié dienste in ag geneem nie, maar ook die gehalte en ondersteuning wat die munisipaliteit aan die mees kwesbare huishoudings in die omgewing bied.
Volgens ’n verklaring uitgereik deur die munisipaliteit, het die Swartland in alle aspekte uitgeblink. “Dit wys ons word deur ’n onafhanklike opinie as die beste in Suid-Afrika beskou,” lui die verklaring.
“Dit is ’n ongelooflike erkenning vir ons hele munisipaliteit en gemeenskap,” voeg die uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, by. “Dit wys dat ons toewyding tot goeie bestuur en kernfunksies in dividende betaal. Wat ons doen, doen ons vir die verbetering van ’n gemeenskap wat ons dien en ons is opgewonde om vir ons toewyding tot die verbetering van nie net die Swartland nie, maar ook Suid-Afrika in sy geheel, erken te word.”
Volgens hom is die uitslag van die indeks ’n bewys dat goeie bestuur en harde werk die antwoord vir ’n suksesvolle regering is.
Cleophas het alle amptenare, raadslede en die plaaslike gemeenskap bedank omdat hy prestasie as ’n gesamentlike poging beskou.
Volgens die GPI 2021 was 13 van die top-20 munisipaliteite in die Wes-Kaap. Die getal het effens toegeneem na 15 Wes-Kaapse munisipaliteite in 2024.
Die Drakenstein-munisipaliteit is kort op die Swartland se hakke, terwyl die Saldanhabaai-munisipaliteit in die derde plek pronk.



