Die onderwysers van Karitas Spesiale Skool – ASD Malmesbury, ’n skool vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes, verwelkom leerders by die skool. Van links staan Nadia Halvorsen, Sherwin Farmer, Freda Fourie en Michaela Booysen (voor). Foto: Charlotte Lesch


April is wêreld outismebewusmakingsmaand, en daarom het die personeel by die Karitas Spesiale Skool-ASD Malmesbury besluit dit is die ideale geleentheid om bewusmaking oor outisme te skep, maar ook die bestaan van die skool te vier.

Die Karitas Spesiale Skool, wat een van vier ASD-satellietskole (Autism Spectrum Disorder) in die Weskus is, is sentraal in Malmesbury in Huis Basson in Moorreestraat geleë.

Die onderrigfasiliteit – deel van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement vir spesiale onderrig – akkommodeer onder meer leerders met spesiale behoeftes en leerhindernisse.

Volgens Freda Fourie, die skool se junior fase- onderwyseres wat leerders tussen die ouderdomme van ses en tien jaar oud onderrig, het die plaaslike skool sy deure amptelik in 2018 vir leerders met spesiale onderwysbehoeftes geopen.

Die fasiliteit, wat tans 17 leerders huisves, beskik oor drie klaskamers, ’n groot speelruimte en ’n ruim kombuis vir bak en brou. Fourie het vyf leerders in haar klas, terwyl Nadia Halvorsen, die onderwyseres verantwoordelik vir die intermediêre fase (10-14 jaar) slegs ses leerders in haar klas kan akkommodeer. Sy brei uit en verduidelik dat hulle na regte nege leerders in ’n klas mag hê, maar dat die ruimte daarvoor dit nie vir nou toelaat nie.

Sherwin Farmer, die onderwyser vir leerders in die senior fase (14-18 jaar), het ook ses leerders in sy klas. Die plaaslike tak pronk nou met ’n vierde onderwyseres, Michaela Booysen, wat vroeër vanjaar as die nuwe Graad R-onderwyseres aangestel is. Sy hoop om binnekort leerders van tussen die ouderdomme van vier en ses jaar oud te ontvang, hoewel daar op die oomblik nog ’n tekort aan klaskamers is.

Booysen, wat van die begin by die plaaslike fasiliteit se bestaan betrokke is, verduidelik die kinders is reeds in kleuterskole met spesiale onderwysbehoeftes geïdentifiseer en gediagnoseer word en dat ’n Graad R-klas daarom noodsaaklik was.

Die personeel moedig ouers aan om so vroeg as moontlik aansoek vir hul kinders te doen omdat die aansoek- en goedkeuringproses tydsaam is. Hulle verwelkom graag lang waglyste wat moontlik as motivering sal dien vir meer ruimte, sodat meer kinders wat spesiale aandag benodig, so gou as moontlik geplaas kan word.

Die personeellede wat die assistent Theresa Heinse insluit, raak kinderlik opgewonde wanneer hulle oor hul loopbaan en hul leerders gesels.

“Dit is my kinders. Ek word elke dag deur hulle vervul,” voeg Fourie met ’n glimlag by.

Hoewel sommige van die onderwysers voorheen leerders in hoofstroomskole onderrig het, het hulle sommer vinnig besef dat ’n ander toekoms op hulle wag. Farmer is dit eens dat hy vandag nie vir een oomblik terug kyk nie. Volgens Fourie werk hulle nie net in die onderwys nie, maar beskou dit as ’n roeping.

Enige mylpaal is ’n groot prestasie – nie net vir die leerders nie, maar ook vir hul onderwyser en ouers, voeg Fourie by.

Die skool volg ’n D-CAPS kurrikulum, maar werk ook op die vlak van elke kind, verduidelik Halvorsen. Sy sê leerders kry wiskunde-onderrig in hul huistaal. Die skool se hoofdoel is egter om basiese lewensvaardighede oor te dra en die leerder uiteindelik selfstandig te maak sodat hy of sy vir hom-/haarself sal kan sorg.

“As ons potensiaal in ’n kind sien, kan die leerder na ’n ander onderrigfasiliteit soos ’n vaardigheidskool toe gaan,” sê Fourie.

Farmer verduidelik hy sal graag sy leerders ’n ambag soos houtwerk wil aanleer.

Fourie verduidelik hulle het nie tans die fasiliteite daarvoor nie, hoewel die ander satellietskole en hul hoof-opleidingsentrum in Vredenburg wel sulke geriewe het.

Die soort onderrigfasiliteit is meer prakties georiënteerd as teoreties, stem Fourie saam.

Vir Karitas-ASD Malmesbury om optimaal te kan funksioneer, sal ’n sensoriese -of terapiekamer ideaal wees, glimlag Halvorsen opgewonde wanneer sy oor die toekoms praat.

Die personeel maak egter plek vir private terapeute soos spraak- en arbeidsterapeute om deur die dag van hul fasiliteite gebruik te maak wanneer hulle met ’n leerder moet werk, hoewel die staat ook terapeute beskikbaar stel.

Karitas Spesiale Skool Malmesbury hou eersdaags – op Vrydag 5 April – ’n pretdag om outismemaand saam met die leerders en hul ouers te vier.

Ouers wat graag hul kinders by Karitas Spesiale Skool Malmesbury wil inskryf, kan die Weskus-onderwysdistrik se kringkantoor in Skoolstraat by 022 482 2737 kontak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article