Die tweede Sakeliga-Kragdag-ekspo het die afgelope week buite Malmesbury op Môreson plaasgevind.
Volgens Piet le Roux, die uitvoerende hoof van Sakeliga, bring Kragdag vir Suid-Afrikaners alternatiewe keuses om meer selfstandig en staatsbestand te kan wees.
’n Paneel sprekers het besoekers gedurende die byeenkoms in die Kopskuifateljee toegespreek oor juis die alternatiewe keuses en optredes om selfstandig en boonop suksesvol te kan wees in ’n land waar elemente soos misdaad, kragonderbrekings en staatsinmenging struikelblokke kan veroorsaak om sekere doelwitte te kan bereik.
Die misdaadaktivis Ian Cameron het Saterdag saam met die prokureur Daniël Eloff en Bennie van Zyl van TLU SA oor die veiligheid van inwoners in ’n “misdaadbesmette” staat kom gesels. Volgens Van Zyl is die statistiek van meer as 80 moorde per dag in die land onaanvaarbaar. “Ons bestuur statistiek eerder as veiligheid.” Hy brei uit en verduidelik dit is belangrik om kommersiële produsente binne ’n veilige omgewing te hou waarbinne hulle kan funksioneer. “Ons moet seker maak ons hou hulle in produksie.”
Cameron sê dit is tyd om oor oplossings te praat en gesê die toekoms van gemeenskapsveiligheid en die rol wat die plaaslike gemeenskap daarin vervul, is ’n prioriteit. Volgens Van Zyl kan die staat se statutêre verantwoordelikheid om sy burgers te beveilig, nie van hom weggeneem word nie. Hy sê egter die land het tot ’n punt gekom waar gemeenskappe self moet uitreik en moet hande vat. “ ’n Gemeenskap moet self sy gebied beheer en so oorheers dat die misdadiger nie ruimte gegee word nie. “Organisasies kom in ’n gemeenskap bymekaar en maak dit ’n gemeenskapsplan, nie ’n Saai-plan of ’n TLU-plan nie. Bring kundigheid bymekaar, dan bestuur jy dit vanuit ’n gemeenskapspunt.”
Theo de Jager van Saai en Schalk Burger, ’n voormalige Springbok-rugbyspeler- en ’n wynmaker op sy familieplaas, Welbedacht-wynlandgoed buite Wellington, het op hul beurt gepraat oor die toekoms van wyn in die land.
Burger het ’n somber prentjie geskep deur weg te trek met die oes wat die afgelope twee jaar weens ongunstige weerstoestande aansienlik afgeneem het. “Sekere van die plaaslike koöperasies is 30% tot 40% af in volume. Een van die grootste redes daarvoor was wind.” Hy sê produsente in die Wes-Kaap het die afgelope November erge wind in die blomfase van wyndruiwe ervaar. “In Januarie het ons vir minstens vyf dae temperature van 40 °C gehad.”
Die koste van wynproduksie is ook op weens onder meer pH-vlakke wat nie voldoende was nie en produsente wat in baie gevalle suur moes byvoeg. Hy vra of gehalte ’n faktor gaan wees om op te maak vir die volumes wat verlore is.
Volgens De Jager is dit belangrik om te vra oor die vermoë van ’n boer en sy gesin om op ’n plaas te bly en te oorleef om winsgewend te wees. Burger sê op sy beurt dit gaan nie altyd oor die vermoë van die boer nie, maar eerder die prysbepalers. “Die prysbepalers in dié stadium is die invoerders van Suid-Afrikaanse wyn oorsee. 70% van alle Suid-Afrikaanse wyn wat uitgevoer word, gaan in grootmaat. Dit word oorsee gebotteleer, so hy bepaal die prys. Ons het toegelaat dat wyn ’n kommoditeit word.”
Burger sê verder Handelsmerk Suid-Afrika moet wynprodusente nou verder vat. “As jy Handelsmerk SA reg bemark, is daar plek vir almal as jy nou in die bedryf is.” Hy bevestig die wynbedryf is onder groot druk. “Ek dink daar moet beter integrasie wees tussen besluitmakers. Selfregulerende organisasies moet in elke streek gestig word. Ons moet beskerm wat daar is en nie wat verkeerd is nie.”




