’n Noodlottige motorbotsing omstreeks 07:30 Donderdag (11 April) op die R45 buite Malmesbury het die lewe van ’n jong man van Saldanha geëis.
Die bestuurder van die ligte voertuig het in die rigting van Malmesbury gery toe hy na bewering teen ’n vragmotor, wat in die rigting van Hopefield gery het, gebots het.
Volgens sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder vir die Malmesbury-polisie, het die 24-jarige Jayen Peter na bewering beheer oor sy motor verloor en ’n Checkers- afleweringsvragmotor getref.
Peter, die enigste insittende van die motor wat aan sy pa, Silas, behoort het, is weens die impak van die botsing reg van voor, op die toneel dood.
Silas het aan polisiebeamptes gesê sy seun was na sy suster in Stellenbosch onderweg toe die botsing gebeur het.
’n Klagte van strafbare manslag word deur die Malmesbury-polisie ondersoek.



