’n Arabierperd het gedurende die Nuwerus-perde-uithourit in Darling ’n ernstige besering opgedoen.


’n Artikel, “Is the pursuit of sport worth the risk to these animals?, wat onlangs deur die Swartland- en Weskus-dierebeskermingsvereniging (DBV) op sosiale media geplaas is, het groot ongelukkigheid in perdekringe veroorsaak.

Dit volg nadat ’n Arabierperd in die gewilde Nuwerus-perde-uithourit in die omgewing van Darling op 5 en 6 April ernstig beseer is.

Die perd is op die toneel deur ’n veearts uitgesit weens die aard van die beserings aan sy been.

Die plaaslike DBV was gedurende die geleentheid teenwoordig.

Die DBV het in die artikel van 9 April sy kommer uitgespreek teenoor die welstand van die perde wat aan die sport deelneem. Volgens die plasing het die DBV die perde in ’n algemene goeie toestand aangetref. Die teenwoordigheid van drie veeartse en twee DBV-inspekteurs is volgens die vereniging egter ’n aanduiding dat die welstand van die deelnemende perde belangrik is, maar dat die sport met risiko gepaard gaan. Die DBV skryf verder hoewel aan alle standaarde voldoen is, is dit onmoontlik om die inherente risiko verbonde aan uithouritte te ignoreer.

Volgens die DBV het die tragiese voorval die gevaar van uithouritte beklemtoon. “ ’n Beginner-perd, in ’n oomblik van paniek, poog om oor ’n heining te spring, gevolg deur ’n katastrofiese besering – ’n gebreekte been,” skryf die DBV. Volgens die artikel besef die DBV dat die perd onmiddellik van sy lyding verlos is, maar sê die gebeurtenis het ’n donker wolk oor die verrigtinge laat hang. Die DBV erken dat die organiseerders nie teen die dierebeskermingswet opgetree het nie. Die vereniging hou egter vol dat uithouritte ’n probleem is. Volgens die organisasie word diere blootgestel aan uitputting, beserings, hittestres en potensiële langtermyn-skade.

“Die blote natuur van uithouritte – om perde te druk tot hul fisieke limiet – is in teenstelling met die beginsels van dierewelsyn,” skryf die DBV.

DB Burger, die president van die Wes-Kaapse Uithouritvereniging, het in reaksie op die artikel gesê die DBV se uitlatings is ’n klap in die gesig van perdesport in sy geheel. “Ons verwelkom altyd lede van die DBV by enige geleentheid. Hul teenwoordigheid hou die eienaars, ruiters, organiseerders en telers op hul tone,” erken hy.

Tog het die artikel ná die geleentheid as ’n groot skok vir die vereniging gekom. “Hulle het geensins fout gevind op die dag nie, daarom trek ek nou hul integriteit in twyfel. Dit is ’n agteraf sensasionele artikel,” voeg Burger hartseer by.

Volgens hom was dit die manier waarop hulle die situasie hanteer het. “Hulle het glad nie met ons gekonsulteer nie.”

Burger het verlede Maandag ’n brief aan die plaaslike DBV geskryf waarin hy hulle gevra het om die plasing te verwyder, asook om verskoning aan die eienaars van die plaas, Louisa en Altus Hanekom, en dié van die beseerde perd, te vra. “Dit het ’n bitter smaak gelos – nie net weens die tragiese gebeurtenis nie, maar vir perdesport in die geheel.

“Dit is ’n klap in ons gesig. Ons is trots op ons sport en lief vir ons perde; hulle is soos kinders in ons huis.”

Burger brei uit en vertel dat die land se voorste veeartse altyd by die uithouritte teenwoordig is en “baie meer vol nonsens” oor die welstand van die perde is, bevestig hy.

Die plasing van die artikel het baie ontstoke eienaars, telers, ruiters en perdeliefhebbers op sosiale media laat gal braak.

Burger het op sy beurt ook in ’n plasing in die kommentaarafdeling geskryf die uithourit-gemeenskap gaan die DBV se optrede en regte verder ondersoek. “Jul onprofessionele en onsensitiewe manier hoe julle dit hanteer het, sal bevraagteken en van nader bekyk word – gebaseer op feite en nie sensasie nie.”

Die DBV het op navraag gereageer en gesê die fokus van die artikel was op die feitelike gebeure van wat op die dag van die uithourit plaasgevind het en op die breër etiese oorwegings rakende uithouritte as ’n sport.

“Dit beskryf die toestande wat waargeneem is gedurende die gebeurtenis, die proaktiewe maatreëls wat geïmplementeer [is] om perdewelsyn te verseker, en [dit] bespreek die etiese implikasies van die gebruik van diere in sport. Ons is die Dierebeskermingsvereniging en sou nalatig wees in ons mandaat as ons nie die feit aangespreek het dat ’n perd sy lewe in die uithourit moes verloor nie,” sê Colette Mang, voorsitter van die plaaslike DBV.”

Volgens die DBV het uithouritte breër implikasies onder die nasionale oorsig van die DBV-beweging. Inspekteurs van die Swartland en Weskus DBV was op spesifieke instruksie van die Nasionale Raad van DBV’s om die byeenkoms in Darling waar te neem en daarop verslag te doen.

“Deur hierdie ritte te monitor, stel dit die DBV in staat om die organiseerders, deelnemers en die publiek oor dieresorgpraktyke te onderrig. Hierdie opvoedkundige rol help om ’n kultuur van respek en sorg vir diere reg deur die gemeenskappe te bevorder.”

Die DBV sê verder sy teenwoordigheid help om te verseker dat gebeurtenisse wat diere insluit, eties uitgevoer word en dat diere met medelye en respek behandel word en sodoende die publiek se ondersteuning en vertroue met aktiwiteite wat diere insluit, behou.

“Dit is ook belangrik om in gedagte te hou dat nie alle voorvalle doeltreffend hanteer word tydens uithouritte en byeenkomste waar diere gebruik word nie, en dit beklemtoon die belangrikheid van die DBV se teenwoordigheid wanneer ons van hierdie byeenkomste bewus gemaak word,” verduidelik die DBV verder.

Volgens ’n inskrywing deur die DBV in reaksie op ontstelde lesers, bly dit sy voorkeur om die stres en gevaar waaraan diere in die sport blootgestel word, te erken.

“Ons mandaat as ’n dierewelsyns­organisasie is om ons fokus te plaas op die diere wat nie hul bekommernisse of toestemming vir deelname kan uiter nie. Ons monitering van die geleenthede is ’n noodsaaklike poging om die beskerming en die welstand van die diere betrokke, te verseker.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article