Zayron Slade (26), ’n inwoner van Malmesbury, is na bewering laat Saterdagaand op 13 April deur ’n plaaslike polisieman op die hoek van Basiliestraat aangerand kort voordat hy in hegtenis geneem is.

Volgens Slade se suster, Deonne Slade, was haar broer van hul ouma op pad terug huis toe, toe die voorval plaasgevind het.

Slade, wat steeds in sy ouerhuis woon, is volgens sy suster vir ’n tweede keer aangerand toe hulle by die polisiekantoor aangekom het. Die polisieman betrokke het na bewering ’n saak van aanranding gemaak en glo self die verklaring neergeskryf, verduidelik sy verder.

Slade is uiteindelik teen die Maandag omstreeks 12:00 vrygelaat nadat sy familie die vorige dag ’n prokureur bekom het. Slade het egter nie in die hof verskyn nie, weens die aard van sy gesigbeserings, wat hy tydens die beweerde aanranding opgedoen.

Die Slades is direk nadat hy vrygelaat is, dokter toe om na sy beserings om te sien. ’n Klagte van aanranding is op hul beurt teen die polisieman aangemeld.

Slade, ’n algemene werker vir ’n motorwerktuigkundige in Malmesbury, weet nou nog nie waarom die polisie hom in hegtenis geneem het nie. Die polisie het op navraag bevestig dat ’n lid van die publiek weens aanranding op ’n polisiebeampte aangekeer is. Dieselfde lid van die publiek het egter ’n teensaak aangemeld en beweer hy is deur dieselfde polisiebeampte aangerand.

“Die saak word deur die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek en ons kan geen verdere kommentaar lewer nie,” het ’n plaaslike woordvoerder, sers. Henry du Randt, bevestig.

’n Klagte van intimidasie is intussen teen ’n familielid aangemeld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article