Nadene Scherman van Malmesbury (links) is verlede week aangewys as die voorsitter van die Wes-Kaapse Netbalfederasie. Saam met haar op die foto is die uittredende voorsitter, Bennie Saayman, asook René Booysen, die nuwe visevoorsitter.


Nadene Scherman van Malmesbury is verlede week as die nuwe voorsitter vir die Wes-Kaapse Netbalfederasie aangewys. Die uittredende voorsitter, Bennie Saayman, was 14 jaar lank voorsitter.

Nadene, ’n mediese dokter in patologie vir die departement gesondheid in Malmesbury, vertel haar netballewe het ‘soos ons almal’ in haar laerskooljare begin.

Later het sy provinsiale netbal gespeel – eers vir Westelike Provinsie en later Swartland (Swartland het intussen Weskus geword).

Swartlanders het hierdie hoof- en hulpdoelverdediger op die netbalbaan leer ken en ook as jare lange lid van Weskus Netbalbestuur.

“Ek het dit ’n ruk lank onderbreek om die ma-ding te doen. Daarna was ek weer agt of tien jaar lank ondervoorsitter vir Weskus Netbal. Vandat ek op die Wes-Kaapse netbalbestuur (WKNF) dien, was my portefeulje transformasie en ontwikkeling.”

Sy is verlede jaar as netbal se Weskusvoorsitter verkies en sedert Vrydag ook voorsitter van die Wes-Kaapse Netbalfederasie. “Dis nogal ’n groot uitdaging, maar ek sien uit daarna. Gelukkig het die vorige voorsitter en ondervoorsitter baie ondervinding na die tafel gebring. Ek het baie by hulle geleer, en nou kan ek daarop voortbou.”

Nadene maak dit juis vanweë haar vorige portefeulje by die WKNF dit haar doel om die kleiner distrikte in die platteland te ondersteun. “Die hulpbronne in die groter distrikte is meer en makliker beskikbaar.”

Sy verwys spesifiek na plattelandse streke wat nie saam met die groter distrikte kon ontwikkel nie, veral weens die gebrek aan bronne en aan opgeleide afrigters en skeidsregters.

“Ek stel dit nou as my prioriteit om die kleiner distrikte te bemagtig met meer opgeleide afrigters en skeidsregters, want slegs opgeleide mense mag kursusse aanbied.”

Haar verdere fokus is spelerontwikkeling in die platteland:

“Ek dink daar is baie talent in die platteland; ons moet dit net gaan soek. Soms gebeur dit wel dat jong plattelandse meisies universiteite toe kom en hier by groter distrikte registreer en affilieer.

“Ons distrikte kry ondersteuning by die departement sport en ontspanning en dit help baie. Maar as ’n distrik nie borge kry nie, raak dit moeilik vir die spelers. Spelers moet self vir toernooie betaal en omdat sommige talentvolle spelers werkloos is, raak dit vinnig ’n uitdaging. Sommige van die groter toernooie kos tussen R10 000 tot R14 000 per speler.

“Ontwikkeling is vir my belangrik – al kry ek net dit reg. Ons wil graag sien dat spelers uit al ses van ons distrikte opgeneem word in spanne soos Southern Kings en Tornado’s.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article