’n Ongelisensieerde wapen is Vrydag (26 April) deur plaaslike polisielede by ’n perseel in Ilingelethu, Malmesbury, afgeneem.

Volgens ’n verklaring, wat deur die plaaslike woordvoerder kapt. Marko Heydenrych, uitgereik is, het die polisie omstreeks 12:50 die middag inligting ontvang oor ’n inwoner in die besit van ’n onwettige vuurwapen.

Die perseel is met die polisie se aankoms in Nonkqubelastraat deursoek, waartydens op ’n .50-kaliber voorlaaier tussen twee planke van ’n informele struktuur afgekom is.

Die vuurwapen is verwyder en die 48-jarige verdagte is vir die besit van ’n onwettige vuurwapen in hegtenis geneem. Die verdagte het Maandag (29 April) in die Malmesbury-landdroshof verskyn.

In ’n soortgelyke voorval is nog ’n ongelisensieerde vuurwapen Sondag (28 April) in die besit van ’n verdagte in Langa Libalelastraat in Ilingelethu, Malmesbury, verwyder. ’n 9 mm-pistool met vyf rondes ammunisie is omstreeks 10:00 die aand in ’n kleresak ontdek.

Die 30-jarige verdagte is op aanklagte van die besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie in hegtenis geneem.

Die verdagte sal na verwagting vandag (Dinsdag 30 April) in die plaaslike landdroshof verskyn.

Die stasiebevelvoerder van die Malmesbury-polisiekantoor, kol. Luthando Nosilela, het die inhegtenisnemings verwelkom en sy dank teenoor die gemeenskap met hul hulp om misdaad te bekamp, uitgespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article