Die plaaslike polisie in die Swartland is sedert gister op ’n gereedheidsgrondslag met verskeie gebeurlikheidsplanne ter voorbereiding van die opkomende nasionale verkiesing, wat môre landswyd plaasvind.

Lede van die polisie is reeds sedert verlede week duidelik sigbaar namate voorbereiding vir die verkiesing getref is, verduidelik sers. Henry du Randt, ’n woordvoerder van die Malmesbury-polisie.

Die polisie was die afgelope naweek ook aansienlik sigbaar om hul gereedheid aan die onafhanklike verkiesingskommissie ten toon te stel, voeg Du Randt verder by.

Die Darling-polisie se woordvoerder, sers. Johnatan Filander, is dit eens dat alle “stewels” sedert Maandag op ’n gereedheidsgrondslag op die grond teenwoordig was. “ ’n Gebeurlikheidsplan is voorgelê dat die polisie paraat moet wees vir enige gebeure gedurende die verkiesingstyd,” voeg hy by. Voorverkiesing-patrollies is gister van stapel gestuur om enige onenigheid tussen kiesers te voorkom. “Diegene wat nie aan diens is nie, is ook beveel om hand te kom bysit. ’n Swaar polisieteenwoordigheid gaan tot Donderdag in die omgewing van Darling wees.”

Sers. Nicolette Visagie, ’n woordvoerder van die Moorreesburg-polisie, het bevestig lede gaan by die onderskeie stembusse teenwoordig wees. Twaalf uur lange skofte gaan gedurende die week gehandhaaf word vir doeltreffende polisiesigbaarheid om inwoners se veiligheid eerste te stel,” verduidelik Visagie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article