Die openingsdatum van die splinternuwe hospitaal waaroor inwoners al vir jare praat, kruip al hoe nader namate Crestcare Malmesbury eersdaags sy deure amptelik sal open.
Charl Hambridge, die bestuurder van die hospitaal, het gedurende ’n onlangse bekendstelling van die Devmark-eiendomsgroep se De Zwartland Manor inwoners ’n vinnige oorsig van die nuwe hospitaal se fasiliteite gegee.
Die amptelike openingsdag word vir Donderdag 1 Augustus beplan terwyl gewoeker word om alles teen die tweede week van Julie reg te kry vir die departement van gesondheid se voorlopige besoek.
Crestcare Malmesbury is een van vyf Crestcare-hospitale landwyd wat daarop gemik sal wees om uitsonderlike gesondheidsorg van die hoogste standaard aan hul pasiënte te bied, herinner Hambridge gaste wat Donderdag by Cafe Myrtledene in Malmesbury vir meer inligting oor die aftreeoord byeengekom het.
LEES: Nuwe hospitaal in April gereed
De Zwartland Manor is deel van die reeds bestaande De Zwartland Werf- ontwikkeling wat ’n winkelsentrum, toekomstige kantoorruimte en woonstelle, die Toyota-motorhandelaar en die private hospitaal huisves.
De Zwartland Manor sal met voltooiing 90 woonstelle beskikbaar hê wat een- en tweeslaapkamereenhede insluit.
Crestcare, wat ’n vennootskap met Summit Africa het, staan tans op nommer ses in die ranglys van private hospitaalfasiliteite in die land, spog Hambridge.
Spangees
Volgens hom was Crestcare se doelstelling van die begin af om spangees te bevorder.
“Ons het ’n span-gebaseerde benadering waar almal saam sal werk.
“Een van ons grootste voorkeure is om die plaaslike gemeenskap betrokke te kry en te ondersteun.”
Hambridge verduidelik dat byvoorbeeld geen nuwe fisioterapeute of arbeidsterapeute deur die hospitaal aangestel sal word nie, maar die diens en kennis van bestaande en plaaslike terapeute van Malmesbury sal gebruik word.
“Die huisdokters sien die pasiënt, die pasiënt word na ’n spesialis verwys, die spesialis sal die pasiënt behandel en die pasiënt sal deur die plaaslike en bestaande terapeute behandel word,” verduidelik hy verder.
“Die plaaslike gemeenskap van Malmesbury gaan deur die spesialiste gebruik en ondersteun word,” het hy benadruk.
Inwoners kan gerus wees met die feit dat die hospitaal algemene chirurge, narkotiseurs, ginekoloë, ortopediese chirurge, pediaters, uroloë, ’n 24-uur-ongevalle-en-traumaeenheid, dokters en ’n neurochirurg wat tans in onderhandeling is, sal hê.
Voorsiening word uiteindelik vir 15 spesialiste gemaak.
Hoewel Hambridge – ook ’n boorling van Malmesbury – nog nie spesialiste se name bekend kon maak nie, het hy die versekering gegee dat pasiënte in goeie hande sal wees.
LEES: Groot ontwikkelings aan die gang
Hambridge verduidelik alle pasiënte sal reeds vooraf via die internet by die hospitaal ingeboek kan word.
Crestcare is deel van die nasionale hospitaalnetwerk, wat beteken indien jou mediese fonds onder die hospitaalnetwerk geregistreer is, jy behandeling daar kan ontvang.
Die apteek word deur die hospitaal besit en word dus voortaan deur die hospitaal bestuur. “Ons sal voltydse aptekers aan diens hê,” voeg hy by.
Pathcare Patologie het ook ’n volledig toegeruste laboratorium in die hospitaal. “Jou bloedmonster sal nie meer na ander fasiliteite gestuur word nie, maar hier ondersoek word.”
Schnetler, Corbett en Vennote se radiologiese dienste beskik oor ’n 480 m²-ruimte wat reeds toegerus is met ’n MR-skandeerder (magnetiese resonansie), CT-skandeerder (rekenaartomografiese skandeerder), ’n mammogram- en ultraklank-skandeerder, waar ook X-strale geneem sal kan word.
Die MR-skandeerder het reeds drie weke gelede aangekom, voeg Hambridge by.
Onderhandelings
Crestcare is reeds besig om met ’n spesifieke ambulans-diensteverskaffer vir ’n 24-uur-diens by die hospitaal te onderhandel.
Die chirurgiese saal gaan 20 beddens huisves, waarvan agt beddens vir dagpasiënte sal wees.
Die mediese saal sal ook oor 20 beddens beskik met bykomende beddens in ’n private saal.
Ouers kan uitsien na ’n kleurvolle pienk kraamsaal, sê Hambridge. Die pediatriese saal het ook agt beddens beskikbaar met ’n private saal. Dit sal tot ’n speelkamer vir die kleinspan hê.
’n Vyfbed- neonatale saal met ’n afsonderingskamer is iets waaroor die pediaters veral opgewonde is, voeg hy by.
Die waakeenheid pronk met natuurlike lig reg deur die saal met agt beddens, waarvan twee vir hoësorg sal wees, insluitend afsonderingsgeriewe.
Die hospitaal is verder vir vier teaters gebou.
Die hospitaal het nie die tradisionele televisieskerms bo in die dak nie, maar iPads, voeg Hambridge opgewonde by. Die rede hiervoor is dat pasiënte toegang sal hê tot alle DSTV-kanale, Showmax en Netflix. “Ouma gaan selfs met haar kleinkind in Australië via die iPad kan kommunikeer,” sê hy.
Belangrike boodskappe van jou dokter sal voortaan direk aan die pasiënt via die iPad gestuur kan word. “Sodra jy ontslaan word, sal alle inligting op die iPad geskrap word vir ’n nuwe pasiënt,” verduidelik hy verder.
Dialise
Fase twee sien om na dialisefasiliteite.
“Ons sal nie nou al buitepasiënte met dialise kan help nie, maar slegs pasiënte binne die waakeenheid.”
Volgens hom sal dialise in die tweede fase wel aan buitepasiënte beskikbaar gestel word.
Crestcare is ook aan die onderhandel met ’n spesifieke onkologie-diensverskaffer.
Skoonmaak-, veiligheids-, higiëniese en spysenieringdienste sal uitgekontrakteer word sodat die bestuur op die hospitaal kan fokus.
Hambridge het sy dankbaarheid teenoor die plaaslike munisipaliteit vir hul ondersteuning uitgespreek.
“Ons is baie opgewonde en gaan ’n wonderlike span wees.”





