Huisbrake in Yzerfontein vier hoogty, maar daar is nog nie rede tot kommer nie. Só sê Koos Liebenberg, voorsitter van die Yzerfontein-buurtwag.

Inwoners van Yzerfontein het die afgelope drie maande sporadies onder huisbrake deurgeloop.

Volgens sers. Johnatan Filander, ’n woordvoerder vir die Darling-polisie, is die week van die nasionale verkiesing by vyf huise in Yzerfontein ingebreek.

Die polisie vermoed in dié stadium dat die inbrekers deel van ’n sindikaat kan wees.

“Die modus operandi is aluminiumvensters. Die vensters word uitgehaal, wat dieselfde optrede deur verdagtes van ’n paar jaar gelede was,”

voeg Filander by. Met alle polisielede in die veld by stemlokale vir die nasionale verkiesing het inbrekers die geleentheid gebruik om weer op huise in Yzerfontein toe te slaan, verduidelik hy verder. Selfone, skootrekenaars en televisiestelle was onder meer van die gesteelde eiendom aangemeld. Die waarde van die gesteelde produkte is nog nie bekend nie. Niemand is nog weens die mees onlangse huisbrake in hegtenis geneem nie, hoewel spore op 31 Mei in die vroeë oggendure tot by die R27-Weskus-pad gevolg is.

Liebenberg is dit eens dat die huisbrake vermoedelik sindikaat-verband is, omdat die modus operandi soortgelyk aan huisbrake was wat aan die begin van die jaar plaasgevind het. Volgens hom is dit na bewering sindikate wat uit die Kaap kom.

Liebenberg voeg by dat die huisbrake die afgelope drie maande “aan en af” plaasgevind het.

“Ons kyk dus maar hoe die tendense ontwikkel. Dit is nie noodwendig iets om oor bekommerd te raak dat daar nou ’n opwelling van inbrake is nie. Ons is rustig in hierdie stadium en hou ’n oog,” gee Liebenberg gemoedsrus.

Ekstra sekuriteitstoestelle en diefwering is wel ook by meer huise aan die kus aangebring of verbeter, het ’n inwoner aan Gazette bevestig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article