Micheal Ross en Charles Kulu Foto: Verskaf


Malmesbury pronk eersdaags met sy eie, nuwe skaakklub danksy twee plaaslike inwoners, Michael Ross en Charles Kulu, wat koppe bymekaar gesit het om ’n klub op die been te bring.

Dit sal die heel eerste skaakklub vir Malmesbury wees, het hulle bevestig.

Ross en Kulu het onlangs ontmoet, hul passie vir skaak met mekaar gedeel en besef dat die dorp nie ’n skaakklub vir volwassenes het nie.

Kulu werk by die Swartland-sportsentrum as ’n sentrum-koördineerder. Hy en Ross het op 14 Junie met die idee vorendag gekom om ’n klub na die sentrum te bring.

Volgens Ross sal die klub nie net ideaal wees vir alle skaakentoesiaste nie, maar ook vir diegene wat nie die voorreg het of gehad het om skaak op skool te speel nie. Hy meen die klub sal beskikbaar wees vir almal – van leerders wat nie skaak by hul skool leer nie, maar ook vir dié wat by die huis sit, niks het om te doen nie en met verkeerde dinge besig is.

“Skaak is baie meer as net ’n sport,” verduidelik Ross. “Jy kan met die regte stappe en die regte invloed ’n lewe daaruit maak. Dit is ons missie.”

Hul voorstel is onder die sentrum se bestuurder gebring, waarna die groenlig gegee is om daar bymekaar te mag kom.

Ross het besluit om die water te toets en die nuus op sosiale media oor die voornemende skaakklub bekend gemaak om te kyk of daar wel belangstelling is.

Belangstellendes is uitgenooi om die afgelope Woensdag (19 Junie) vir meer inligting oor die klub na die sentrum te kom.

“Vyf mense het opgedaag. Ons was gelukkig daaroor, want dit is net die begin,” het Ross opgewonde gesê. Hy en Kulu wil die klub nou ’n werklikheid maak. Volgens hom is toerusting nou nodig, soos skaakborde, tafels, stoele en meer. “Dit is wat ek en Charles wil doen en gaan doen – ons gaan nie opgee nie,” het hy entoesiasties bygevoeg.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article