Henry van Wyk, ’n geliefde rugbyafrigter van Malmesbury, is op 13 Junie ná vermoedelik twee massiewe hartaanvalle dood.
Raynard de Jager, die hoof van Schoonspruit Sekondêr, sê hy was lanklaas so geskok deur iemand se skielike dood.
Van Wyk, beter bekend as Heinie, was die afgelope tien jaar by Schoonspruit Sekondêr se sportafdeling as rugby- en atletiekafrigter betrokke. Hy het ook met die skool se LO-kurrikulum uitgehelp.
“Hy was baie geliefd onder die leerders vir die soort mens wat hy was – altyd respekvol teenoor ouer mense en baie entoesiasties teenoor sport,” brei De Jager uit.
Behalwe dat Van Wyk ’n toegewyde sportafrigter by die skool was, was hy ook by die Boland se vroue-rugbyspan as afrigter betrokke. En wanneer hy nie langs die sportveld gestaan het nie, was hy bekend vir sy vernuf as skeidsregter in die hitte van die stryd.
Van Wyk het ook nooit geskroom om leerders te help nie, voeg De Jager by. “As die kinders na proewe geneem moes word, was hy altyd beskikbaar. Vir iemand wat nie ’n oudleerder van Schoonspruit was nie, het hy Schoonspruit as sy skool aangeneem en sy volle gewig ingegooi met enigiets waarvoor ons sy hulp nodig gehad het. Ons is baie hartseer en gaan hom werklik baie mis. Hy het ’n groot rol in die skoolgemeenskap vervul.”
Van Wyk het glo die oggend van hoofpyne gekla. Sy ouers het kort daarna die onderburgemeester van die Swartland, Anet de Beer, gekontak, wat met haar aankoms ’n ambulans ontbied het. Van Wyk is kort daarna oorlede.
Huldeblyke het kort nadat die nuus van sy dood versprei het, ingestroom. Van Wyk is deur baie beskryf as hul lewensafrigter en nie slegs hul rugbyafrigter nie. “Jy sal vir ewig onthou word,” het Eline Adonis op sy Facebook-blad geskryf.
’n Troosdiens is die afgelope Woensdagaand (20 Junie) in Schoonspruit Sekondêr se saal gehou.





