Brent Crafford (60) met sy brons-toekenning. Foto:


Dit is nie so ongewoon om te hoor van iemand wat besluit het om die stad vir die platteland te verruil nie. ’n Ervare litigasie-prokureur, wat die wêreld van beslissing van geskille agterlaat om ’n voltydse distilleerder in die platteland te word, is wel verfrissende nuus.

Brent Crafford (60), ’n voormalige prokureur en eienaar van ’n regspraktyk, spog vandag met sy eie winkel in Riebeek-Kasteel vanwaar hy sy handgemaakte jenewer-produkte distilleer en verkoop.

Crafford het sowat sewe jaar gelede besluit om tuis as deel van ’n stokperdjie met distilleerdery te eksperimenteer. Die deeltydse stokperdjie het ’n voltydse projek geraak toe die eindresultate al hoe lekkerder begin smaak het, glimlag hy – vandaar die begin van Hallucinogin, wat voorstel dat mense eerder buite die verstand moet rondwandel as binne wanneer van sy gin gedrink word.

Vriende van hom, wat jare gelede al na Riebeek-Kasteel verhuis het, het Crafford in September 2022 oortuig om hom hier in die Swartland te kom vestig. Vandag is hy nie vir een oomblik spyt nie. Hy het dit ook nooit verder oorweeg om hom as prokureur in die vallei te kom vestig nie.

Crafford vertel hoe dankbaar hy teenoor die inwoners van die Riebeek-vallei is, wat hom van die begin af laat tuis voel het.

Hy het sy winkel uiteindelik sowat ’n maand gelede oopgemaak.

Crafford bieg en vertel dat die seisoen met die koue weer dalk nie die beste tyd was om sy onderneming te vestig nie, maar hy was self verbaas oor hoe goed inwoners en besoekers sy produkte ontvang het. “Dit gaan sover goed. Die stadige begin is eintlik ook ’n goeie ding om ’n beter idee van die mark te kry en my voete te vind,” vertel hy opgewonde.

Crafford spog boonop reeds met erkenning op internasionale vlak. ’n Wynmaker van Riebeek Valley Wine Co. het hom onlangs besoek en Crafford aangemoedig om sy produk vir vanjaar se kompetisie van die International Wine and Spirits-toekennings in die Verenigde Koninkryk in te skryf, vertel hy. Crafford het twee monsters ingestuur en is onlangs met ’n brons-toekenning beloon.

Crafford is baie trots op die feit dat die meeste van sy bestanddele uit die plaaslike omgewing kom. “Byna alles wat ons aanbied, is plaaslik gewerf,” voeg Crafford by.

Besoekers kan onder meer uitsien na proesessies van jenewer, martini’s en selfs Gluwjinn, wat binnekort op die rak sal verskyn.

En wanneer Crafford nie agter sy distilleer-gereedskap verdwyn nie, skuif hy graag agter ’n lessenaar in om te skryf. Van sy boeke tot ’n verskeidenheid hoede – ’n ander stokperdjie waarin hy graag versamel – is te koop.

Crafford sien nou uit om sy onderneming te laat groei, meer te leer en verder met plaaslike produkte te eksperimenteer.

Volgende jaar skryf hy weer vir dié kompetisie in, voeg hy beslis by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article