Max, die sewejarige skaaphond van Moorreesburg, is ná vier dae se gesoek in die reën en yskoue weer veilig aan sy eienaars terugbesorg.
Verlede naweek se donderweer was vermoedelik die rede waarom Max besluit het om die hasepad te vat. Sy eienaar, Elizabeth Lewies, vermoed Max het vir die donderweer geskrik en kon nie weer sy huis kry nie. Hy woon die afgelope ses maande by die Lewies-gesin in Rosenhof nadat hulle hom ingeneem het. Die plaaslike inwoner en diereliefhebber Renata van Dyk, wat die voortou met die soektog geneem het, is veral verlig oor die feit dat Max uit die ysige koue gered is.
Van Dyk vertel hoe foto’s van ’n vermiste hond, wat in gietende reën in die strate ronddwaal, aanvanklik op 7 Julie op ’n WhatsApp-groep die ronde begin doen het om vas te stel of die hond nie aan iemand behoort nie.
Van Dyk en ’n paar lede op die groep het van toe af in hul voertuie geklim en die verskrikte hond probeer nader namate nuwe inligting van waar hy aangetref was, aan die lig gekom het.
“Dit was ’n stryd. Elke keer wat ek en van die ander inwoners nader wou kom, het Max weggehardloop. Hy was ook bang vir ons voertuie.”
Nie eens die gebraaide hoender wat sy vir vier dae saam gery het, het gewerk om hom te lok nie. Van Dyk het toe besluit om sy eienaars op te spoor deur op sosiale media te vra of iemand nie hul hond vermis nie. Hulle het die boodskap gesien en kontak gemaak.”
Moedeloos
Vandaar het Van Dyk elke keer die Lewies-egpaar gaan oplaai nadat iemand Max gewaar het.
“Dit het ook nie gehelp nie; ek was so moedeloos.” Van Dyk het die weervooruitsigte dopgehou en besef Max gaan nie die afgelope Donderdag (11 Julie) se voorspelde storm oorleef nie. “Ek het Woensdag baie gehuil en baie hard gebid vir ’n wonderwerk. Ek het skaars klaar gebid toe lui my foon. Max is sowat vyf minute tevore gesien. Ek het in my kar geklim en na hom gejaag, maar hy het weer weggehardloop,” vertel Van Dyk, wat in daardie stadium byna moed verloor het. Sy het weer die Lewies-egpaar gaan haal met die hoop dat hulle Max sou kon oorreed om huis toe te kom. Van Dyk beskryf hoe sy en die Lewies-egpaar omtrent geswoeg het om by Max by te hou.
Dit was uiteindelik in Wildevleisingel waar Max tot stilstand gekom en Elizabeth daarin geslaag het om hom nader te roep. “Kom, mammie se hondekind,” was haar woorde wat Max na haar arms gelei het. “Toe huil ek,” lag ’n verligte Van Dyk.
Max is eers na die plaaslike Doornkloof-dierehospitaal geneem vir ’n deeglike ondersoek. Sy poot moes verbind word en hy is ook vir bosluise behandel. “ ’n Plaaslike inwoner het besluit om die veeartsrekening namens die Lewiese te betaal,” voeg Van Dyk dankbaar by.
Elizabeth beskryf Max se terugkeer as God se genade. “Ons waardeer alles wat Renata en die ander ingesit het en as ’n span saamgewerk het om Max op te spoor. As dit nie vir hulle was nie, sou ons nie vandag vir Max gehad het nie.”
Max is gister (Maandag) uit die dierehospitaal ontslaan.





