Abbotsdale en Wesbank in ’n titaniese stryd in die jaarlikse rugbyderby-stryd op die Wesbank-sportterrein, waar Abbotsdale 36-24 gewen het.


Saterdag het Wesbank en Abbotsdale swaarde gekruis op die Wesbank-sportterrein in die jaarlikse rugbyderby-stryd tussen dié twee spanne.

Die wedstryd het op ’n hoë noot afgeskop toe die Sanlam- Boland Kavalier-speler Tyreec Liedeman ná net vier minute se spel gaan druk het om die tuisspan voor te plaas. Wesbank, wat die derbystryd moes wen om sy uitspeelkanse lewendig te hou, kon egter nie die besoekers, wat tans die oorhand het, se aanslag afweer nie.

Abbotsdale het egter sake gelykgemaak en in die 23ste minuut met ’n verdoelde drie geantwoord om die telling 7-7 te maak.

’n Paar minute later skeur Skippers die verdediging van Lelies en gaan druk ná ’n pragtige lopie, maar misluk met die doelskop. Dit het egter Abbotsdale aangevuur om die voortou te neem met ’n tweede verdoelde drie – 14-12 met rustyd.

Beide afrigters het harde woorde met die spelers gehad aangesien hulle ontevrede was met hul spel.

Abbotsdale het in die 43ste minuut ’n strafskop oorgeklits vir ’n voorsprong 17-12, maar dit was van korte duur want Wesbank het teruggeslaan met ’n onverdoelde drie om die telling gelyk te maak (17-17).

Lelies het sy bonusdrie in die 62ste minuut behaal, wat die telling tot 24-17 laat klim het. Lelies se rotsvaste verdediging het Wesbank in die tweede helfte ontsenu.

Wiam Syster het deur Wesbank se verdediging geskeur en ’n pragtige drie gedruk. Met die telling op 31-17 en 70 minute speeltyd verstreke het Lelies seker gemaak dat Wesbank hom nie kan verbysteek nie.

Wesbank kon egter nie uit Lelies se wurggreep ontsnap nie en toe Lelies sy sesde drie druk – die telbord nou op 36-17 – en Wesbank ’n geelkaart ontvang, was die koeël behoorlik deur die kerk.

Wesbank het egter tot die laaste minuut gespeel en in beseringstyd ’n bonusdrie behaal om sodoende ’n punt uit die wedstryd te kry.

Ná afloop van die wedstryd het Denna Koopman, die afrigter van Abbotsdale, beklemtoon dat hulle heelwat foute in die eerste helfte begaan het, maar tot hulle reg in die tweede helfte gekom het.

Met nog ’n harde wedstryd wat wag teen Darling eerskomende Saterdag op Abbotsdale kan nog ’n reusestryd tussen die twee voorlopers verwag word.

“Die spelers verbeter met elke wedstryd en daarom is dit belangrik dat ons in elke wedstryd so min as moontlik foute begaan. Elke wedstryd is vir my en my bestuurspan belangrik, maar ons vat dit een vir een soos dit kom,” het Koopman gesê.

Ander uitslae:

Darling 48-26 Moorreesburg

Riebeeck United 19-38 Porterville

Young Eagles 37-32 Villagers Wittewater

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article