Earl Lewis van Darling breek Abbotsdale (Lelies) se hart met ’n perfekte strafskop, wat Darling die wedstryd met 27-24 laat wen het.

Credit: Darrling RC

Met nog vier wedstryde oor in die Boland-rugbyunie se Grootuitdaagbekerreeks, stuur die Swartlandstreek op ’n spannende einde af.

Abbotsdale, wat tot Saterdag (10 Augustus) die pasaangeër was, het hom teen ’n begeesterde Darlingspan vasgeloop, wat hom met 14 spelers geklop het.

Darling het met dié oorwinning karakter gewys en weer eens gewys jy kan nie op jou louere rus nie, maar jy moet die volle 80 minute van ’n wedstryd speel en so min as moontlik foute begaan.

Denna Koopman, Abbotsdale se afrigter, het ’n week gelede teen Wesbank melding gemaak dat dit belangrik is dat jy jou kanse moet benut, want as jy laat glip, gaan dit baie moeilik wees om die voorlopers in te haal omdat die reeks nie meer baie wedstryde oor het nie.

’n Rooikaart vroeg in die eerste helfte het Darling se wedstrydplanne benadeel en hy moes oorskakel na plan B om dié sege deur te haak.

Dit het die verdedigende Swartland-kampioen van 2023 omtrent 70 minute geneem om tot verhaal te kom, maar die span het karakter gewys.

Nadat Earl Lewis ’n perfekte strafskop Saterdag oorgeklits het, het hy menigte Lelies se hart gebreek deur die wedstryd vir Darling met 27-24 te wen.

Eerskomende Saterdag speel Darling gasheer vir Wesbank en nog ’n titaniese stryd soos min kan op die Byenes verwag word.

Darling se laaste twee wedstryde is teen Never Despair (31 Augustus; weg) en Porterville (7 September; tuis).

Abbotsdale se mikpunt is steeds die eerste plek in die streek. Sy laaste vier wedstryde is teen Young Eagle (17 Augustus; weg), Riebeeck United (24 Augustus; tuis), Villagers Wittewater (31 Augustus; weg) en Moorreesburg (7 September; tuis).

Porterville het ’n harde neutedop om te kraak as hy tweede wil eindig, maar as hy Never Despair en Wesbank agtereenvolgens kan klop (24 en 31 Augustus; tuis) kan hy by die agterdeur inglip. Hy pak die verdedigende kampioen, Darling, in sy laaste wedstryd op die Byenes op 7 September in Darling.

Vir Wesbank (vierde), Good Hopes (vyfde) en Never Despair (sesde) is dit neusie verby, maar hulle kan steeds die voorlopers se kaarte deurmekaarkrap, wat vir ’n opwindende skouspel in die Swartlandstreek kan sorg.

Ander uitslae:. Swartland

Goodhopes 20-19 Never Despair; Villagers Wittewater 55-38 Riebeeck United; Porterville 27-10 Saron, Abbotsdale 24-27 Darling.. Weskus

Paternoster 21-23 Vredenburg; Young Hearts 33-0 Piketberg; St. Helena 37-20 Mamre; Velddrif 37-12 Steenberg’s Cove; Langebaan 12-19 Hopefield.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article