’n Splinternuwe hoërskool word tans op Darling gebou.


Bouwerk aan die splinternuwe hoërskool in Darling is in volle swang. Só het David Maynier, die provinsiale minister van onderwys verlede week opgewonde op die departement se Facebook-blad bevestig.

Die Wes-Kaapse departement van onderwys is vir die konstruksie van die projek verantwoordelik.

Bouwerk van fase een het reeds in Februarie vroeër vanjaar begin nadat die administrasie en raadslede van die Swartland-munisipaliteit al vir byna ’n dekade lig werp op die tekort en noodsaaklikheid van ’n hoërskool in die dorp.

Volgens die Swartland-munisipaliteit is die behoefte aan ’n hoërskool reeds deur plaaslike owerhede in die Swartland se geïntegreerde ontwikkelingsplan van 2014/2015 uitgewys.

Die departement hoop om die Hoërskool Darling se deure vir die 2025-akademiese jaar vir leerlinge oop te maak.

Die skool word as ’n groot gewone openbare hoërskool geklassifiseer, wat altesaam 30 klaskamers gaan huisves. Volgens ’n verklaring, uitgereik deur die WKOD, sal vir bykans 1 044 leerders voorsiening gemaak word sodra die totale projek afgehandel is.

“Die proses en tydsberekening vir die verwerking van nuwe aansoeke vir toelating tot die nuwe hoërskool sal deur die Weskus se onderwysdistrik hanteer word,” het die WKOD bevestig. Die algehele projek is na raming vir R120 miljoen begroot.

Volgens die Swartland se uitvoerende burgemeester, Harold Cleophas, is die nuwe skool ’n groot verligting. “Dit sal nuwe hoop vir ons Darling-inwoners bring vir wie dit nie meer sal nodig wees om hul kinders na ander dorpe weg te stuur vir onderrig nie.”

Cleophas het sy dankbaarheid teenoor die munisipaliteit se administrasie en wyksraadslede uitgespreek nadat hulle nooit opgegee het nie en aanhou werk het om die droom ’n realiteit te maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article