Die Moorreesburg-polisie is onlangs (op 24 Julie) by die graad R-klasse van die Laerskool Dirkie Uys se beroepsweek genooi. Die polisielede het onder meer die toerusting waarmee hulle werk, aan die leerders gewys. Tydens hul besoek is die geleentheid ook gebruik om juis bewustheid onder leerders te kweek rakende veiligheidswenke, hoe kinders hulself kan beskerm, seksuele oortredings en dwelmmisbruik.


’n 11-jarige seun van Moorreesburg, is die afgelope Dinsdag (6 Augustus) byna ontvoer.

Die leerder van die Laerskool Dirkie Uys in Moorreesburg was die oggend vroeg op pad skool toe, toe die voorval plaasgevind het, het AO Nicolette Visagie, ’n woordvoerder van die Moorreesburg-polisiekantoor, bevestig.

“ ’n Wit voertuig het by die seun op die hoek van Plein -en Kloofstraat gestop. ’n Insittende in die passasiersitplek het die venster afgedraai en vir die seun verduidelik dat sy ma hulle gestuur het om hom op te laai omdat hy ver van die skool af woon. Die seun het gelukkig geweet dit is nie die waarheid nie, omdat hy baie na aan die skool bly,” het Visagie verduidelik. Die seun het sy rugsak neergegooi en na die naaste hek van die skool gehardloop totdat hy veilig binne die terrein was.

Volgens die seun se beskrywing was die insittendes twee bruin mans. “Die bestuurder het ’n sonbril gedra en ’n neusring gehad, terwyl die passasier ’n wit top met ’n kappie aangehad het.

“Hulle het Afrikaans gepraat.

“Die voorval het so vinnig gebeur dat die seun nie die nommerplaat of fabrikaat van die voertuig gesien het nie.

Die polisie het ’n beroep op ouers en voertuigbestuurders wat leerders vervoer, gedoen om enige verdagte voertuie, insittendes of mense wat naby die skoolterrein gewaar word en aan die plaaslike gemeenskap onbekend is, aan te meld.

“Ouers moet weet waar hul kinders is. Ouers moet hul kinders by die skool op en aflaai of iemand wat hulle vertrou, vra om te help met vervoer skool toe en terug. Praat met jou kinders en waarsku hulle om nie in ’n vreemdeling se voertuig te klim nie en om van hul omgewing bewus te wees.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article