Die potte gaan vanjaar behoorlik prut gedurende die derde Jo-Pot-potjiekompetisie, aangebied deur Darling Cellars en Jo-Dolphin Swartland APD as vennoot en begunstigde van die opbrengs.
Dié gewilde potjiekoskompetisie vind môre (Woensdag 4 September) by die wynkelder van Darling Cellars plaas.
Hoewel inskrywings reeds gesluit het, is die goeie nuus dat enigiemand steeds welkom is om saam te kom kuier en saam te kom eet.
Die dag beloof hope pret en plesier met spanne wat gaan gees bring en televisiepersoonlikhede soos Karen Els, die wenner van Kokkedoor Vuur en Vlam 2023, en die bekende Erik De Milander wat as beoordelaars gaan optree.
Darling Cellars bied sedert 2022 reeds die Jo-Pot suksesvol met Jo-Dolphin Swartland APD, ’n spesiale dagsorgsentrum vir kinders en volwassenes met veelvuldige gestremdhede, in Malmesbury aan.
Die sukses van hierdie smullekker geleentheid is te danke aan die deelnemers, besoekers en hul bydraes.
Die potjiekos word na afloop van die kompetisie teen R100 per bord verkoop, terwyl mense boonop ook aan heerlike pannekoek sak kan smul.
Vir meer inligting kan Marius Botha by 082 326 4902 of Christine Fortuin by 022 492 2276 gekontak word.
Loslitdagplakkers (ten bate van onder andere Jo-Dolphin) sal ook teen R20 te koop wees.
Vir meer inligting oor die plakkers, kan Estrellita Geldenhuys, die sentrumbestuurder, per e-pos by jodolphincentremanager@gmail.com gekontak word.
Kom kuier saam en raak betrokke.



