Danie Malan (60), ’n pa, oupa, eggenoot, vriend en ikoon in die wynbedryf, is verlede Woensdag skielik aan vermoedelik ’n hartaanval dood.
Die nuus van sy dood, wat met groot hartseer ontvang is, het skokgolwe deur die vallei en die Suid-Afrikaanse wynbedryf gestuur.
Malan het volgens ’n verklaring uitgereik deur sy familie, ’n vergadering in Kaapstad bygewoon toe hy glo ’n hartaanval gekry het. Sy vrou, Juanita was by hom toe die voorval gebeur het.
Die Malan-familie het die Allesverloren-wynlandgoed in Riebeek-Wes sedert 1872 besit en bestuur nadat Daniël Francois Malan die grond gekoop het.
Malan, wat as die vyfde geslag boer en wynmaker op die oudste wynplaas in die Swartland in geskiedenisboeke verewig is, se legende leef voort deur sy wyne, stoepstories en sy kinders en kleinkinders se herinneringe van hom.
Malan het sy studies by die Elsenburg-landboukollege in 1987 voltooi en onder leiding van sy pa, Fanie, by die plaas aangesluit. In 1990 het hy die wynmaker op Allesverloren geword en later in 2003 uiteindelik die leisels by sy pa oorgeneem.
Sy seun, vernoem na oupa Fanie, het in 2019 as wingerdboukundige by die plaas aangesluit. Malan se kleinseun, wat onlangs gebore is, het sy geboortenaam van Daniël Francois gekry.
Familie, vriende en vennote in die bedryf groet Malan met ’n swaar hart.
“Danie was ’n toegewyde man en pa wie se familie en kinders ’n sentrale rol in sy lewe gespeel het. Buiten die wingerd, was Danie ’n passievolle visserman en was bekend vir sy groter-as-die-lewe persoonlikheid,” sê sy familie verder. “Danie laat ’n onuitwisbare merk in die landskappe van die Swartland en die Suid-Afrikaanse wynproduksie agter.”
“Dis met ’n knop in die keel dat ons moet afstand doen van Danie Malan, die eienaar van die Allesverloren-wynlandgoed,” het Dewald Huisamen, wat homself beskryf as Malan se buurman, vriend, wynmaker en sakevennoot, aan die Gazette gesê.
Volgens Huisamen, die voorsitter van die Swartland Jongwynskouvereniging en ’n wynmaker by Pulpit Rock, was Malan ’n omgee-mens. “Danie, ons sal jou omgee-hart, liefde vir mense (oud en jonk) en ’n braaivleisvuur altyd koester. Ons sal jou bulderende lag, jou liefde vir kosmaak en gesels nooit vergeet nie. Rus sag tot ons mekaar weer sien. Jy laat ’n leemte in ons vallei en jou stories op die stoep sal werklik gemis word.”
Jolene Janse van Rensburg, die bestuurder van die Swartland- Wyn-en-olyf-roete, het Malan as ’n groot gees in die wynbedryf beskryf. “Waar begin ’n mens? Daar is so baie stories, baie lag en drukkies as ek aan Danie dink.
“Hy was ’n groot gees in die wynbedryf en ons gaan hom baie mis.”
Sy vertel Allesverloren was ’n stigterslid van die Swartland- Wyn-en-olyf-roete in 1986 en die Malan-familie- baanbrekers in die Swartland se wynbedryf.
“Danie was vir ’n aantal jaar die voorsitter van die Swartland- Wyn-en-olyf-roete en soms moes hy ons deur stormwaters stuur. Hy was by uitstek ’n boer en ’n familiemens. Soos hy altyd gesê het – hy was ’n boer wat wyn gemaak het, nie ’n wynmaker nie. Sy kinders en sy kleinkinders was sy alles – dit kon ’n mens sien elke keer wat hy oor hulle gepraat het. Sy warmte en menswees sal my altyd bybly – sout van die aarde. Ons gedagtes en gebede is by sy vrou, Juanita, sy kinders en sy kleinkinders in hierdie baie moeilike tyd.”
Malan se laaste woorde aan Brad Gold, een van Suid-Afrika se jongste Kaapse wynmeesters, was; “Ek gaan nog ’n lang pad met jou stap, Soutie.”
Só vertel Gold aan die Gazette nadat hy van Malan se heengaan verneem het. “Ek was mal oor sy vermoë om aan te pas, te verander en te dien. Hy het dit op so ’n ontspanne en vriendelike wyse gedoen. Hy het my heeltemal vertrou met alles wat ek gedoen het,” vertel Gold, wat onder meer aan Allesverloren se handelsmerk gewerk het. “Danie was toeganklik en ondersteunend en in my bedryf was dit verfrissend.” Volgens Gold het hy die wêreld se respek vir Malan gehad. “As ’n man hard werk, kom dit gewoonlik ten koste van sy gesin, maar nie in hulle geval nie. Danie se gesin was baie lief vir hom en het hom altyd ondersteun,” voeg hy by.
Sy goeie vriend Rudiger Gretschel het gesê dit is mense soos Danie wat die wynbedryf so uniek en spesiaal maak. “Hulle maak hulle nie meer soos hy nie. Dit het vir hom gegaan oor die liefde van die lewe, die liefde vir boerdery, vir wyn, mense, geselskap, goeie kos en vir die liefde van familie. Dit is in wese wie hy was,” voeg Gretschel van Vininmark by, wat die nuus as ’n geweldige skok beskryf het. “Ek weet Danie is tevrede. Sy wynonderneming met sy seun, Fanie, en dogter, Daniëlle (verkope), op die plaas is in goeie hande. Maar ek is seker hy sou dit geniet het om sy kleinkinders te sien ouer word. “Hy was ’n spesiale man,” voeg Gretschel by.
Peter Pentz van Groote Post was diep geskok om van Malan se dood te hoor. “Danie was ’n ongelooflike siel met ’n humorsin soos min,” het hy op sy Facebook-blad geskryf.
Toks van der Linde het op sy beurt ook sy hartseer uitgespreek en Malan as ’n kampioen beskryf.
Hoogtepunte van sy loopbaan sluit onder meer sy benoeming as Diners Club se Wynmaker van die Jaar in 1998 in. Malan het ook in 2010 geskiedenis gemaak deur die eerste Suid-Afrikaanse keldermeester te word wat met die gesogte Goue Glas-toekenning in Swede vereer is nadat hy as die internasionale wynprodusent van die jaar aangewys is.
Malan laat sy vrou, Juanita, drie kinders – Jua-Mari Strehler, Daniëlle Malan, Fanie Malan en kleinkinders agter. ’n Gedenkdiens word op 21 September om 11:00 by Allesverloren gehou.





