Yzerfontein gaan eersdaags met ’n pragtuin by sy ingang kan pronk danksy Yzerfontein Toerisme se inisiatief om die dorp se ingang groener te maak.
Yzerfontein Toerisme, in samewerking met inwoners en belanghebbendes van dié Swartlandse kusdorp, het besluit om in te gryp en die ingang na hul dorp op te kikker en te verfraai.
Só verduidelik Yvette Collins van die plaaslike toerismekantoor, wat besef het die ingang tot hul dorp het dringende aandag nodig. “Ons het besef die ingang tot ons dorp is nie juis verwelkomend nie en ’n opgradering daarvan was broodnodig,” verduidelik sy.
Volgens Collins is inwoners reeds besig om die ingang na die gewilde kusdorp in ’n spogtuin om te skep wat uiteindelik by die bestaande tuin van die Ocean Village-winkelsentrum sal aansluit.
Die projek het amptelik op 30 September begin nadat die grondwerk vir die tuin, met behulp van die Swartland-munisipaliteit, plaaslike ondernemings en inwoners voltooi is.
“Ons hoop om die ingang van die dorp te verfraai sodat inwoners en besoekers nog meer welkom sal voel wanneer hulle ons kusdorp inkom,” voeg sy opgewonde by.
“Projekte soos die nuwe uitkykpunt en die verfraaiing van ons dorp se ingang word moontlik gemaak deur ledegelde,” verduidelik Collins. “Wanneer jy ’n lid van Swartland Toerisme is, word jou ledegeld vir die dorp waar jy lid is, aangewend. Die geld word dus vir toerismeprojekte binne die betrokke dorpe gebruik.
“Ons moedig sakeondernemings dus daarom aan om by hul plaaslike toerismeverenigings aan te sluit sodat projekte soos die groener dorpsingang moontlik gemaak kan word,” verduidelik sy.
Volgens haar is ledegelde min en steun hulle daarom ook op borge.
’n Gedenkplaat gaan onder meer eersdaags by die Yzerfontein-uitkykpunt kom, waarop alle borge sal verskyn wat by plaaslike projekte, gedryf deur Yzerfontein Toerisme, betrokke was.
Pierre Els, ’n inwoner van Yzerfontein en wat die projek lei, sê die projek sou nie moontlik gewees het sonder die bereidwilligheid deur plaaslike sakeondernemings, inwoners en belanghebbendes om betrokke te raak nie. “Daar is heelwat borge en individue sonder wie ons nie sou kon vermag wat reeds vermag is nie,” voeg Els by.
Alle inwoners en sakeondernemings word genooi om by die tuinprojek betrokke te raak. Kontak die kantoor by yzerfontein@swartlandtourism of Pierre Els by 071 331 6071, wat die projek lei.





