Refred Adams, impakspeler van Darling en driedrukker op die aanval teen Young Spurs in die twee spanne se Sanlam-Boland-Top-12-uitspeelwedstryd. Foto: Lizette Smit


Ná ’n swak vertoning in sy eerste Sanlam-Boland-Top-12-uitspeelwedstryd teen Robertson, het Darling in sy tweede wedstryd karakter getoon.

Ondersteuners het Saterdag (19 Oktober) by die Gabriel Faroa-sportterrein in Darling vir die wedstryd tussen Darling en Young Spurs van Doringbaai ná Darling se onlangse nederlaag van 21-64 teen Robertson byeengekom.

Darling het die loot gewen en gekies om eerste teen die sterk wind te speel. Darling se oorheersing was van die eerste skrum af duidelik, wat op ’n moeilike dag vir Spurs in die skrums gedui het.

Henwill Cleophas het eerste vir Darling punte aangeteken ná indrukwekkende spel deur dié voorspeler. Die doelskop deur Earl Lewis was mis, maar hulle het ’n voorsprong van 5-0 geniet.

Ongedissiplineerde spel deur Darling het gelei tot ’n strafdoel vir Spurs, wat hul eerste punte besorg het toe Charlton Stevens dit oorklits om dit 5-3 in Darling se guns te maak.

Ná rustyd het Spurs twee vinnige drieë gedruk, waarvan Stevens een verdoel het om hul telling tot 29-10 in die 60ste minuut te laat groei.

Darling, bekend vir sy vernuf tot die einde toe, het sy aanvalle van stapel gestuur nadat sy kaptein, Mitchun Fortuin, ’n drie gaan druk het om dit 29-17 te maak. Darling het egter momentum opgebou en sy oorheersing duidelik in die skrums gewys.

Toe Wildon Marsh Darling se bonusdrie met 10 minute oor behaal en Lewis verdoel om die telling 29-24 te maak, was die tafel gedek vir opwindende rugby. Angelo Marsh het die telling in die 78ste minuut gelykop gemaak toe hy ’n bal in Spurs se doellyn toeval. Lewis het die harte van gesoute Spurs-ondersteuners gebreek toe hy Darling vir die tweede keer die voortou laat neem toe sy doelskop ’n kurweswaai maak en tussen die pale deurgaan. ’n Strafdoel in beseringstyd het verseker dat Darling die wedstryd 34-29 wen.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article