Kay-Lee Mouton in aksie gedurende ’n opewater-swemitem. Foto: Verskaf


Kay-Lee Mouton (15) het op driejarige ouderdom leer swem en onlangs die koppe laat draai ná haar indrukwekkende deelname aan die gewilde Langebaan Express-opewaterswem van 12 km.

Sy is ’n leerder aan die Hoërskool Dirkie Uys in Moorreesburg.

Kay-Lee het verlede Saterdag (2 November) ’n uitstekende vyfde plek in die vroue-afdeling behaal terwyl sy ’n algehele 18de plek in die kompetisie losgeswem het.

Dié ywerige swemmer se liefde vir water en swem as sport het op ’n baie jong ouderdom begin. Kay-Lee, ook ’n oudleerder van die Laerskool Dirkie Uys, was reeds van die begin af mal daaroor, vertel sy opgewonde.

Sy het aanvanklik haar vernuf vir die sport in die swembad uitgeoefen en aan swemgalas deelgeneem. Die gety het egter in 2023 gedraai en haar in ’n ander rigting gestuur nadat sy as deel van ’n geldinsamelingsgeleentheid aan ’n opewater-swemitem deelgeneem het. Daarna was dit neusie verby.

Kay-Lee het sedertdien om Kaappunt geswem, van Robbeneiland af Bloubergstrand toe en nou vir ’n vyfde keer die uittog tussen Mykanos en die sogenaamde Preekstoel by Langebaan voltooi. Haar wens is om eendag nog Valsbaai ook aan te pak.

Die opewater-swemgeleenthede word moontlik gemaak deur Big Bay Events wat dit reël, sê Kay-Lee trots. “Hulle het ’n wonderlike waterveiligheidspan,” voeg sy by.

Vir nou mik sy om die roete tussen Robbeneiland en Bloubergstrand in die nag te voltooi. Die opewater-swemitem staan bekend as die Covert Escape, waartydens Kay-Lee gaan poog om genoegsame geld vir die oudleerder Johanna Skippers van HDU se opkomende SA netbaltoernooi in te samel. Johanna, wat in 2017 matrikuleer het, se lewenslange passie vir netbal het in gr. 2 danksy haar ma se aanmoediging begin. Vandag koester sy dié herinneringe nadat haar ma verlede jaar aan kanker oorlede is.

Die netbalgogga het destyds op ’n skamele agtjarige ouderdom behoorlik gebyt. Met jare se geloof en ondersteuning deur verskeie netbalafrigters, is Johanna in gr. 10 in die o.19A-netbalspan opgeneem, waar sy tot in haar matriekjaar verder aan haar talent op die baan, maar ook as mens, gegroei het.

Sy is boonop in haar laaste jaar op skool as kaptein van die eerste span aangewys.

Johanna het ná skool by die Moorreesburg Tiere-netbalspan aangesluit, vanwaar haar reis saam met die Weskus-netbalfederasie gevorder het. “Netbal het vir my meer as net ’n sport geword – dit is my toevlug. Elke keer as ek op die baan is, los ek alles agter en is ek vry van emosies. Netbal het my gehelp om myself te vind en sterker te staan, ongeag wat die lewe bring,” vertel sy.

Dié Swartlandse netbal-ster hoop om eersdaags aan die Spar- nasionale netbalkampioenskap op Ellispark as lid van die Weskus se A-span deel te neem.

Die nasionale kampioenskap vind van 1 tot 7 Desember plaas.

Terwyl sy ander se drome help realiseer, gaan Kay-Lee voort om haar passie vir die ope waters danksy die hulp van haar afrigter, Paolo Gabriels van Tapergo Aquatics, te koester terwyl sy haar eie drome najaag om eendag ook haar land by die Olimpiese Spele te kan verteenwoordig.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article