’n Seremoniële lint is gedurende die geleentheid deur Anet de Beer, die onderburgemeester van die Swartland-munisipaliteit, en Joggie Scholtz (die munisipale bestuurder) geknip om die amptelike uitrol van die inisiatief te simboliseer. Heel links staan Isabel Young (hoofbibliotekaris) van die Swartland-munisipaliteit met Talita Viola, ’n bibliotekaris by die Malmesbury-biblioteek, heel regs.Foto’s: Charlotte Lesch


Stories en verhale van binne die gemeenskappe van die Swartland is onlangs verewig danksy ’n inisiatief van die provinsiale departement van kultuursake en sport om die geskiedenis van elke streek mondelings vas te vang ter bewaring vir geslagte wat volg.

Die Swartland-munisipaliteit se Melvin Harmse, wat die verwelkoming gedurende die amptelike uitrol van die program met die tema “Vertel jou storie @ jou biblioteek” verlede Dinsdag (5 November) behartig het, is dit eens dat die projek toegewy is aan die vaslegging van stories uit die Swartland se gemeenskappe.

“Mondelinge geskiedenis gaan nie net oor die opname en die neerpen van gebeure nie, maar ook om die emosies, tradisies, geskiedenis en waardes wat ons met mekaar verbind, te vertel en te verstaan. Ons wil deur die program die stemme van die verlede en hul dade vereer, wat toekomstige geslagte sal inspireer,” voeg hy by.

Stories, diep vanuit hul eie skatte, is gedurende die geleentheid deur plaaslike inwoners gedeel.

“Kom ons bewaar saam die unieke lappieskombers van die Swartland se ryk geskiedenis wat sy erfenis vertel,” het Harmse benadruk.

Volgens hom is dit die stories en verhale wat opgesluit is in gemeenskappe.

“Daarom moet mense na hul plaaslike biblioteke toe gaan om na die verhale te luister, staaltjies vas te pen en stories oor te dra. Stories is daar vir almal,” voeg hy by.

“Wat is jou storie?” het die onderburgemeester van die streek Anet de Beer onder meer gedurende die geleentheid in die plaaslike stadsaal op Malmesbury aan gaste gevra.

“Elkeen van ons inwoners en gemeenskappe het ’n storie wat ryk is aan kultuur en geskiedkundige gebeurtenisse, maar wat nêrens vasgelê is om vir ons nageslag behoue te bly nie.”

Volgens De Beer is dit juis hoekom die provinsiale departement van kultuursake en sport ’n geleentheid geskep het vir die versamel van mondelinge geskiedenis – ’n ministeriële inisiatief deur die departement, wie se doel dit is om die projek na elke openbare biblioteek uit te rol.

“Mondelinge geskiedenis behels die deel van stories deur gemeenskappe en sluit persoonlike geskiedenis, tradisies, kultuur, inligting en kennis oor hul gemeenskap in,” vertel sy verder.

Die stories word op ’n DVD opgeneem, wat voortaan in die biblioteek geplaas sal word om te kan sirkuleer en toeganklik te kan wees aan almal, sê De Beer.

Volgens haar sal afskrifte van die opnames ook in die argief geplaas word vir bewaring vir die toekomstige geslag, terwyl ’n uitsending op die You Tube-kanaal vir makliker toegang geplaas is.

“Die inisiatief identifiseer stories van gemeenskappe binne die provinsie wat uiteindelik vasgevang, opgeneem en gedokumenteer word. Deur die persoonlike ervaring van alle gemeenskappe in die provinsie vas te vang, dra dit by tot sosiale inklusiwiteit deur te verseker dat persoonlike ervarings en geskiedkundige gebeure binne die gemeenskappe en openbare biblioteke lewendig gehou sal word sodat toekomstige geslagte hul erfenis kan vier,” brei De Beer uit. “U storie maak saak. Ek doen ’n beroep op Swartland-gemeenskappe om hierdie geleenthede te gebruik om hul stories vas te vang,” sluit sy af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article