Die derby-wedstryd tussen die ligavoorlopers Abbotsdale en
Wesbank Saterdag 4 Junie op die Abbotsdale-sportterrein was beslis een van die
mees opwindende wedstryde wat hierdie geskiedkundige kampioenskap oor die jare
opgelewer het.
Die wedstryd het teen ‘n baie hoë tempo begin met die
voorspelers van albei spanne wat behoorlik onder mekaar ingeklim het.
Abbotsdale, wat met die wind van agter gespeel het, kon hul gebiedsvoordeel in
punte omskep deur ‘n strafskop en twee skepdoele deur hul losskakel Wiam Syster.
Wesbank het die kanse om punte aan te teken verbeur deur swak hantering en
wisselvallige lynstaan werk. Abbotsdale druk voor rustyd ook ‘n drie deur
agsteman Brandon Koopman wat verdoel was deur Syster om 16-0 voor te loop.
Soos enige derby-wedstryd was die stryd nog ver van verby en
met die aanvang van die tweede helfte het Deston Wellman die span van Wesbank
met slim taktiese spel op die voorvoet gehou.
Wesbank teken 17 onbeantwoorde punte aan deur drieë van
Hendrik Mattheusen, Lioniel Petersen en Bryson Albertus. Met ‘n voortou van
17-16 en slegs ‘n paar minute oor in die wedstryd begaan Wesbank ‘n oortreding wat
‘n strafskop aan Abbotsdale gee.
Wiam Syster slaag met die strafskop om aan Abbotsdale ‘n 19
-17-oorwinning te gee. Die groot skare wat die Abbotsdale-sportterrein volgepak
het, het beslis een van die beste wedstryde in ’n lang tyd gesien.
Abbotsdale speel komende Saterdag teen Darling tuis terwyl Wesbank
teen Saron te staan kom.
Ander wedstrydbepalings vir die Swartland-streek die naweek:
- GoodHopes teen Villagers WW
- Porterville teen Never Despair
- Koringberg teen Moorreesburg



