MALMESBURY – Die plaaslike gemeenskap van Abbotsdale is in rou gedompel nadat Chad Steyn (32), ‘n geliefde inwoner van die Swartland, omstreeks 20:00 Saterdagaand (13 Junie) in ‘n motorfietsongeluk dood is.
Die voorval het op die N7-snelweg tussen Malmesbury en Abbotsdale gebeur. Geen ander voertuie was by die ongeluk betrokke nie, hoewel Steyn volgens die plaaslike polisie vermoedelik beheer oor sy motorfiets verloor en teen ‘n betonmuur gebots het. Die oorsaak en omstandighede rakende die botsing word in die stadium deur die Malmesbury-polisiekantoor ondersoek, voeg polisiewoordvoerder sers. Henry du Randt by.
Boodskappe van medelye het begin instroom kort nadat die skoknuus oor sy dood bekendgeword het.
Steyn, ‘n oudleerder van Schoonspruit Sekondêr, wat sy skool se atletiek- en eerste rugbyspan verteenwoordig het, het onder meer as skrumskakel vir die Abbotsdale-rugbyklub se eerstespan uitgedraf. Volgens Raynard de Jager, die skoolhoof van Schoonspruit Sekondêr, was Steyn ‘n nederige en gewilde leerder. Hy was in sy matriekjaar (2012) ook lid van die gekombineerde span bestaande uit Schoonspruit en die Hoërskool Piketberg wat ‘n toer na Johannesburg meegemaak het.

Volgens Brian Siebritz, die voorsitter van die Abbotsdale-rugbyklub, was Steyn veel meer as net ‘n talentvolle rugbyspeler.
“Hoewel baie hom sal onthou vir sy vasberadenheid en toewyding op die rugbyveld, sal dié wat hom geken het, hom veral ook onthou vir sy karakter, sy aansteeklike lewenslus en die opregte manier waarop hy mense behandel het. Chad het ‘n besondere teenwoordigheid gehad en het oral waar hy gegaan het, ‘n blywende indruk gemaak.”
Wanneer Steyn nie vir sy span uitgedraf het nie, het hy sy toks vir die pad verruil met sy passie vir motorfietsry. Steyn het vir ‘n skeepsverpakkingsmaatskappy gewerk.
“Namens Abbotsdale-rugbyklub betuig ons ons innige meegevoel aan sy familie, vriendin Taytum en almal wat oor Chad se afsterwe rou. Sy nalatenskap en herinnering sal altyd deel van ons klub se storie bly en hy sal met groot respek en waardering onthou word.”






You must be logged in to post a comment.