RIEBEEK-WES – Die splinternuwe RK3-aanleg vorder fluks.
Só het die uitvoerende hoof van dié sementreus, Matias Cardarelli, en die hoof van strategiese projekte, Horacio Ardiani, gedurende ‘n spesiale geleentheid op die perseel van die bestaande PPC-aanleg in Riebeek-Wes gesê. Gaste, verskaffers, kliënte en belanghebbendes is die afgelope Donderdag (19 Maart) op ‘n toer geneem waartydens die ontwikkelingsprojek besigtig is.
Volgens Cardarelli is die ontwikkeling nie net binne die voorgestelde tydsraamwerk nie, maar ook binne die bepaalde begroting. “Dít is moontlik gemaak danksy spoedige besluitnemingsprosesse vanaf die tekenbord tot die bouperseel. Die projek is meer as ‘n nuwe aanleg. Dit is simbolies tot vordering en vernuwing. Ons is besig om ‘n nalatenskap te bou.”
LEES OOK: PPC sê nuwe aanleg ’n moet
Cardarelli het verder vertel hoe die RK3-ontwikkelingsprojek van R3 miljard
die Suid-Afrikaanse sementreus sal herdefinieer danksy ‘n meer doeltreffende en moderner aanleg wat voortaan 1,5 miljoen ton sement per jaar sal kan vervaardig.





Die huidige aanleg is byna 70 jaar oud. ‘n Toonaangewende aanleg met die nuutste tegnologie sal PPC in staat stel om sement op ‘n meer omgewingsvriendelike wyse te vervaardig. Die nuutste tegnologie wat aangewend sal word, sal doeltreffende energiegebruik meebring en ‘n laer-koolstof-sement teen ‘n mededingende koste tot gevolg hê.
Kevin Woods, die konstruksiebestuurder, het gedurende ‘n toer op die bouperseel gesê die nuwe aanleg sal ook baie langer in produksie wees as wat vir die huidige aanleg voorspel word. Die nuwe aanleg sal waarskynlik teen die middel van 2027 sement kan begin vervaardig.





You must be logged in to post a comment.