Gavern Skippers op loop teen Never Despair in ‘n Grootuitdaag-derbywedstryd Saterdag 21 Junie in Wesbank. Foto: Tersia van der Westhuizen

‘n Droom wat Mcneil Hendricks en sy span gekoester het, het destyds op 8 Maart op die Wesbank sportterrein teen Saron afgeskop – en op 6 September op Porterville triomfantlik teen Voorberg geëindig.

Met hul doelwit reeds bereik, het Wesbank hul lojale ondersteuners ‘n laaste blik op kampioen-rugby gegee en vir dié wat hul span vir 26 weke deur wind en weer gevolg het, was die laaste liga-wedstryd van Boland Rugbyunie se Grootuitdaag-kompetisie ‘n gepaste beloning.

Wesbank-rugbyklub Swartland streekkampioen
Die Wesbank-rugbyklub is die Swartland-streekkampioen van die Boland Grootuitdaagbeker en sal eersdaags in die top12 uitspele deelneem.

Hoewel Wesbank reeds ‘n week tevore as kampioen gekroon is, het hulle seker gemaak dat die seisoen op ‘n hoë noot eindig — nie net vir die klub nie, maar ook vir die gemeenskap wat hul pad ondersteun het. Voorberg, wat vir die eerste keer in die Swartlandstreek se Grootuitdaag-kompetisie deelgeneem het, het met moed en vasberadenheid gespeel. Hul vuurdoop was kliphard, maar hul gees het gewys dat hulle ‘n plek verdien.

Voorberg het verrassend begin met ‘n vroeë drie, maar Wesbank het vinnig teruggeslaan met drieë deur Keanan Solomons en Maxville Nero, waarvan Gavin Skippers een verdoel het. ‘n Strafskop deur Skippers en ‘n drie deur Dillon Strydom het die telling teen halftyd op 20-5 gestel. Ná die hervatting het Solomons twee verdere drieë gedruk en sy driekuns voltooi. Skippers het een verdoel en Farmer het agter die pale gaan kuier met ‘n suksesvolle doelskop – 39-5. Voorberg het laat met ‘n onverdoelde drie geantwoord, maar Wesbank het die eindtelling met ‘n sewende drie deur Tyreec Liedeman, verdoel deur Dashton Wellman, op 46-12 afgesluit.

Vir Wesbank was die oorwinning meer as net ‘n telling – dit was ‘n viering van toewyding, groei en ‘n droom wat vervul is. Hulle gaan nou saam met die Abbotsdale Lillies die Swartlandstreek verteenwoordig. Die span het gewys dat ware kampioene nie net wen nie, maar ook inspireer.

Met die Grootuitdaag-trofee reeds in die kas, kyk Hendricks en sy troepe vorentoe na die Sanlam-Boland-Top-12- uitspeelwedstryde, wat op 11 Oktober afskop. Een ding is onbetwisbaar: Swartland se kampioene het hul merk gemaak. Nou staan die streek gereed – nie net om te kyk wie wen nie, maar om saam te leef en te onthou wie Boland se storie verder gaan skryf.

Die vraag bly: Wie van Abbotsdale, Botrivier, Eagles, Hillcrest, Robertson, Roses United, Delicious NW, Safcol, Saldanha, Villagers Worcester, Vredenburg óf Wesbank gaan met die 2025-Sanlam-Boland-Top-12-trofee van Boland Rugbyunie wegstap?

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article